ADVERTISEMENT:

 

Ligte uit vir Eskom?

 

News  Date: 12 May 2006

 

Die plaaslike kantoor van Eskom, die land se hoof elektrisiteitsverskaffer, is op 13 April in die duisternis gedompel nadat die plaaslike munisipaliteit hul krag summier afgesny het weens beweerde “nie-betaling”.

Dit het egter later geblyk dat die munisipaliteit weereens ‘n flater begaan het wat vir heelwat rooi gesigte gesorg het, nadat daar deur Eskom bewys kon word dat hulle betyds betaal het.

Lede van die publiek wat te hore gekom het dat die verskaffer van elektrisiteit se krag deur hul eie munisipaliteit afgesny is, het dit baie komies gevind.

Volgens Eskom se streeksmediaverteenwoordiger in Thohoyandou, mnr. Thiofhi Ratshitanga, is die krag foutiewelik afgesny, terwyl die kragrekening voor die afsnydatum op 7 April betaal is.

Die plaaslike Eskom¬kantoor kon nie die amptenare oortuig dat hul krag betaal is nie en kon ook nie ‘n kans kry om hul bewyse van betaling van hul rekening van R11 000 deur te faks nie, aangesien die kragtoevoer summier afgeskakel is. Daarna het die faksmasjien uiteraard nie gewerk nie. Die elektrisiteitsverskaffingsmaatskappy se areakantoor het vir vier ure sonder krag gesit op 13 April, die Donderdag voor die Paasnaweek. In die duister kantoor was een van Eskom se leuses, “Hou die ligte aan die brand”, slegs le leë woorde.

Uiteindelik het die hoofkantoor die probleem uitgesorteer en hulle bewys van betaling aan die munisipaliteit deurgefaks. Die krag is gelukkig aangeskakel voor die langnaweek.

“Hulle het besef dat hulle mense foutiewelik uitgestuur het en het die krag weer aangeskakel,” het mnr. Ratshitanga gesê.

Een lid van die publiek het gesê dat dit herinner aan ‘n comedy of errors, na aanleiding van die titel van een van Shakespeare se dramas. Daar is ook bespiegel oor hoeveel geld munisipaliteite vir Eskom skuld.

Eskom verskaf elektrisiteit aan 3,5miljoen residensiële verbruikers, waarvan ‘n halfmiljoen elektrisiteitsrekenings ontvang en die ander voorafbetaalde eenhede gebruik. Die groter kragverbruikers, soos munisipaliteite, koop grootmaat krag van Eskom en verkoop dit aan huishoudings. Luidens ‘n Eskom-webwerf is betalingsvlakke in hierdie kategorie baie naby aan 100%. Dit het verbeter nadat Eskom in 2002 ‘n baie strenger beleid ten opsigte van nie-betaling begin volg het. Ratshitanga het op 9 Mei gesê dat die Makhado Munisipaliteit gereelde betalers is.

Die munisipaliteit se Direkteur: Finansies was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Intussen het buitensporige hoë rekenings vir privaatwonings weer begin kop uitsteek, nadat dit op die oog af vir ‘n tyd verbeter het. Mnr. Danie Lourens het vertel dat hy verlede maand ‘n skokrekening van R19 625 ontvang het.

“Dit was toe verkeerde berekenings en verkeerde lesings. Volgens die rekening kon ek die hele reservoir se water opgebruik het. Dit is intussen uitgesorteer,” sê mnr. Lourens. Hy het tevore ook ‘n skokrekening van R22 000 ontvang, waarna rekeninge vir ‘n tyd lank korrek was.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines