

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 May 2006
Kommer is aan die toeneem oor die skynbaar doelbewuste poging van die Stadsraad om die dorp se Christen-gemeenskap uit te sluit uit besluitnemingsvergaderings wat die gemeenskap raak.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU-SA Noord, het sy kommer uitgespreek oor dié tendens na ‘n munisipale vergadering wat op Sondagoggend, 7 Mei, gedurende kerkdienstye gehou is. Tydens dié IDP (Integrated Development Plan) vergadering is talle sake bespreek wat die streek se inwoners direk raak. Verdere kritiek oor Sondag (7de) se vergadering was dat feitlik die hele vergadering in Venda was, wat dit moeilik gemaak het vir andertaliges om enige insette te lewer. ‘n Soortgelyke vergadering word vir Sondag, 21 Mei, om 09:00 beplan waartydens rolspelers en inwoners die geleentheid sal kry om insette te lewer ten opsigte van die Raad se nuwe voorgestelde erfbelasting. Joubert sê hy sien die vergaderings nie as verteenwoordigend nie en ook nie bindend nie.
Volgens ds. Phillip Venter van die dorp se Leraarsforum wil dit voorkom asof die Raad doelbewus belangrike vergaderings soos hierdie op Sondae reël om die Christen-gemeenskap uit die besluitnemingsproses uit te sluit. Venter sê dit is ‘n miskenning van Christene se regte en daardeur is die Makhado Munisipaliteit besig om inbreuk te maak op die land se grondwet.
Ds. Venter het versoek dat die munisipaliteit dadelik hierdie praktyk sal staak en eerder vergaderings op tye skeduleer wat almal sal pas. Sou hierdie tendens voortgaan, het Venter gewaarsku dat dit die betaling van belastings erg kan beïnvloed, met verwysing na die Amerikaanse gesegde “no taxation without representation”.

ADVERTISEMENT:
