ADVERTISEMENT:

 

André van den Berg wys na waar die koeël hom in die bors getref het. Die einste koeël het byna Petro se lewe geëis.

Petro is getuigskrif van menslike veggees

 

News  Date: 12 May 2006

 

Drie weke na haar byna noodlottige ontmoeting met die dood, voer Petro van den Berg steeds ‘n opdraande stryd tot herstel. Haar deursettingsvermoë is egter ‘n pragtige getuigskrif van die menslik veggees.

“Onder omstandighede gaan dit baie goed met Petro,” het eggenoot André van den Berg Dinsdag gesê.

Petro is op 18 April byna noodlottig gewond tydens ‘n gewapende aanslag op haar en André se lewens by hul woning in Krugerstraat deur ‘n vermeende inbreker. Sy is deur ‘n koeël in die kop getref, nadat dit eers vir André skrams in die bors getref het.

“As die koeël my nie eerste getref het nie, was sy dood,” sê André.

Na die skietvoorval is Petro eers by die privaatkliniek hier gestabiliseer, waarna sy deurgejaag is Polokwane toe vir ‘n ses-uur-lange noodoperasie. Die koeël het gelukkig nie die brein binnegedring nie, maar net die kopbeen gesplinter. Dié splinters moes letterlik van her brein afgewas word.

Die bewustelose Petro is Woensdag, 19 April , oorgeplaas na die intensiewe eenheid van die Muelmed Hospitaal in Pretoria.

“Teen Saterdag het dinge sleg gelyk. Ek het die dokters gevra wat haar kanse tot oorlewing was. Ek is meegedeel dat, sou sy bly leef vir die volgende 48 uur, sy sou deurtrek,” sê André.

Teen Sondag, 23 April, het Petro merkwaardig begin herstel en teen Dinsdag, 25 April, is sy oorgeplaas na ‘n gewone saal.

“Kom ons wees eerlik, dit was net te danke aan ‘n hele gemeenskap wat vir haar gebid het,” merk André op.

Petro het goed herstel, alhoewel probleme met haar sig in die linkeroog en effense verlamming aan die linkerkant van haar lyf kommer gewek het. Haar sig is nog ‘n probleem, maar dit wil voorkom asof sy intussen die verlamming oorkom het.

Van Petro se veggees sal baie inwoners sekerlik kan getuig. André sê dat Petro hom na ‘n week in die hospitaal geskakel het terwyl hy op reis was terug Louis Trichardt en vir hom gesê het hy moet onmiddellik omdraai en haar kom haal.

“As dit nie vir haar veggees was nie, het sy nie so vinnig herstel het nie,” sê André.

Te midde van haar vinnige herstel het Petro gesukkel met geweldige hoofpyne, klaarblyklik vanweë drukking op die brein. Die pyn was by tye so erg dat sy in trane uitgebars het. Om die probleem te probeer oplos, is Petro verlede Woensdag weer terug teater toe. ‘n Klein pypie is uit haar brein onder die vel geplaas om te help om vog wat op die brein vergader, direk in haar maag te dreineer. Dit het die drukking op haar brein verlig en volgens André sal die pypie permanent wees. Petro moes weer na die operasie twee dae in die intensiewe eenheid verkeer, waarna sy weer oorgeplaas is na ‘n gewone saal.

Dit is duidelik dat Petro moeg is vir haar verblyf in die hospitaal.

“Sy het Maandag my weer geskakel en gesê die dokters het gesê ek kan haar maar kom haal. ‘n Rukkie later het ‘n verpleegster teruggeskakel en gesê Petro is maar baie deurmekaar, ek moenie kom nie,” sê André.

André is dankbaar dat hulle ‘n mediese fonds het. Hy sê die mediese onkoste beloop reeds sowat ‘n miljoen rand.

“Sy sal nog vir so vyf tot ses weke in Pretoria moet bly vir fisioterapie en berading. Ek is egter daarvan oortuig dat sy ten volle gaan herstel,” sê André.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines