ADVERTISEMENT:

 

Meld voorvalle van intimidasie dadelik aan

 

News  Date: 12 May 2006

 

Insp. Nelwamato Vele, plaaslike polisiewoordvoerder, het inwoners versoek om onmiddellik voorvalle van intimidasie by die polisie aan te meld.

Hy het gereageer op ‘n voorval die afgelope naweek waar ‘n taxibestuurder ‘n vrou met die dood gedreig het.

Die voorval het Saterdag (6de) by ‘n wegneemete-kafee plaasgevind. ‘n Ooggetuie het aan die Zoutpansberger vertel wat presies gebeur het en hoe erg hy self deur die voorval geraak is. Hy het ook gemeld van ‘n soortgelyke persoonlike ontbering ‘n rukkie gelede. Hy het in dieselfde kafee gestaan om ‘n bestelling te plaas toe ‘n Vendasprekende man reg teenaan hom kom staan het. Hy het dit eers geïgnoreer en vorentoe beweeg, waarop die man saam met hom gestap het en weer teen hom kom staan het. Toe hy hom in Venda aanspreek daaroor, het die man hom gevloek en ‘n groot bohaai opgeskop. Twee polisiemanne in die kafee is gevra om die man te berispe, maar dit was eers toe die kafee-eienaar dieselfde versoek geopper het, dat die polisiemanne die man kalmeer het.

Tydens Saterdag se voorval het ‘n jong seun ‘n taxibestuurder gevra om eenkant toe te staan, sodat hy by die kassiere kon betaal. Die taxibestuurder het op die seun begin skreeu en toe die seun se ma tussenbeide tree, het die taxibestuurder sy woede na haar gewend.

Die taxibestuurder het die vrou uitgejou en vir haar gesê dit is nie meer “haar land nie”. Die ooggetuie sê dat man die vrou toe gedreig het dat hy haar huistoe gaan volg en haar gaan keelaf sny. Hy het die dreigement talle kere herhaal en selfs die vrou buitentoe gevolg. Weer moes die kafee-eienaar ingryp en die situasie is ontlont. Alhoewel hulle nie die taxibestuurder se naam kon kry nie, kon hulle sy registrasienommer bekom.

Insp. Vele het na afloop van die voorval gesê dat inwoners dadelik sulke voorvalle moet rapporteer, sodat persone wat hulle aan dié vorm van wangedrag skuldig maak, voor ‘n hof gebring kan word en uit die samelewing verwyder kan word.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines