

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 May 2006
Die munisipaliteit het hierdie week opgetree teen onwettige bewoning en strukture in die dorp.
“Dit moet einde kry,” het die Makhado Munisipaliteit se Direkteur: Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, op 9 Mei gesê.
Ongelukkigheid het ontstaan by lede van die AGS Kerk Charisma-gemeente in Munnikstraat, omdat hulle gevoel het dat die akkommodasie agter in ‘n erf in Munniksraat, aangrensend aan die eiendom van die AGS Kerk, ‘n groot seeroog is. Die lidmate van die kerk het die spulletjie al “die plakkerskamp” gedoop.
“Dis ‘n deurmekaarspul,” het mnr. Tommy Janse van Rensburg gesê, wat oorkant die straat ‘n erf wil ontwikkel.
Tussen die akkommodasie en die kerk, is ‘n leë erf wat aan die AGS Kerk behoort en deur die kerk ontwikkel wil word. Die gemeente voel dat die beplande ontwikkeling gerem word deur die “seeroog” in die erf langsaan. Pastoor Johan van Rensburg het gesê dat hy by die munisipaliteit gekla het dat die strukture nie volgens bou- en gesondheidsregulasies is nie.
Die kamers vir akkommodasie is meestal van hout gebou en onder ‘n sinkdak geplaas.
“Die burgemeester het onlangs gesê dat sy omgee vir die mense. Wys ‘n mens dat jy omgee vir mense as jy toelaat dat hulle in sulke strukture bly?” vra past. Van Rensburg. Daar was ook die vraag of die erf gesoneer was vir akkommodasie.
Hierdie week het die munisipaliteit bevind dat die erf nie gesoneer is vir akkommodasie nie en dat daar ook nie spesiale toestemming vir vergunde gebruik vir beperkte oorgnagakkommodasie gegee is nie.
“Dit is onwettige akkommodasie en ons het die finale kennisgewing vir ontruiming gegee.” Mapholi het ook gesê dat hulle nie strukture toelaat wat nie behoorlik volgens bouregulasies is nie en dat sulke strukture afgebreek sal word.
Die munisipale prosedure is dat ‘n klag ondersoek word vir die grondigheid daarvan. Indien daar nie aan munisipale regulasies voldoen word nie, word daar kennis gegee daarvan aan die eienaars en bewoners. Daar is voorgeskrewe prosedures wat vinnig in werking tree.
Die eienaar van die perseel het geweier om kommentaar te lewer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
