ADVERTISEMENT:

 

Sterk gesinne, geanker in God, sal Suid -Afrika omkeer! Dis die boodskap van die sprekers wat Louis Trichardt se Manne van die Woord vir hul gesinsnaweek van 26 tot 28 Mei genooi het. Van links na regs is Tobias Fourie (Manne van die Woord), Philip de Jager (pastoor), Zane Meas (spreker), Arno van Niekerk (spreker), Sampie van Niekerk (pastoor) en Chris Mattheus (pastoor). Fourie het gesê dat hulle baie goeie terugvoer ontvang het van die gesinsnaweek.

Pa's moet groter rol speel in gesinne

 

News  Date: 02 June 2017

 

Die geliefde koerantredakteur Neville Meintjies se (tweede) afsterwe in die gewilde TV-sepie 7de Laan was ‘n hartseer saak. Die goeie nuus is dat Zane Meas (wat Meintjies se karakter speel) gevra het dat hy finaal uit die sepie geskryf word, sodat hy meer tyd het om dit te doen waarvoor hy glo hy geroep is – om landswyd mense oor “vaderskap” te bedien.

Louis Trichardt se Manne van die Woord het Zane en dr. Arno van Niekerk as sprekers genooi vir ‘n gesinskamp wat die afgelope naweek by Northgate Lodge gehou is. Arno is ‘n ekonoom en senior lektor by die Vrystaatse Universiteit.

Zane het soveel wyshede kwytgeraak en sy uitmuntende talent as akteur ingespan om die waarhede onvergeetlik te maak. Zane sê dat beide seuns en dogters hul identiteit van hul pa kry. ‘n Meisie moet by haar pa hoor "ek is lief vir jou" en "jy is pragtig". Vir sy seun moet 'n pa sê “jy het dit” en “ek is trots op jou”.

Zane is die stigter van die Fatherhood Foundation wat gesinne en die land verander “een man op ‘n slag”. Maar hoe nou gemaak as jy ‘n enkelmoeder is? “Daar is ‘n dubbele porsie van God se genade op enkelmoeders. Ek het ‘n groot bewondering vir hulle. As ‘n enkelmoeder moet jy net nooit jou kinders te veel toelaat, omdat jy skuldig voel nie. Wees streng! En maak seker dat jou seun gementor word deur ‘n goeie, ordentlike man,” het Zane in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê. Zane het ook ‘n boek geskryf Daddy, Come Home: Rediscover the Importance of Fatherhood.

“Sterk gesinne lewer sterk kinders,” het die 39-jarige Arno gesê. Arno bedien op Mighty Men kampe en die Mighty Family inisiatief is nou in die proses om gebore te word. Arno het beklemtoon dat elkeen se ware identiteit in Christus gevind word. “In ons land is ons identiteit in Christus hoër as ons kulturele identiteit,” het Arno gesê. Hy reis regoor die land en sê dat hy onder alle kulture ‘n honger na God opmerk. Arno verteenwoordig ‘n nuwe, hoopvolle generasie wat sonder skroom sê dat die oorsaak van die probleme in Suid-Afrika geestelik is. Hy sê dat die huidige gryp na grond, banke en myne die uitvloeisel van ‘n “weeskindmentaliteit” is en dat die land die Heilige Gees nodig het. Sy boek Genoeg! Hoekom is ons hier? (ook in Engels vertaal) trek die denkbeeldige streep in die sand en roep uit dat geestelike verandering eerste kom, nog voor gesonde politieke en ekonomiese verandering. “Dis alles behalwe verby met Suid-Afrika!” skryf Arno.

Sondag het Arno die erediens by die Volle Evangelie Kerk op Louis Trichardt waargeneem en Zane beide oggenddienste by Agapé Christensentrum. “Daar is ‘n aanslag op die gesin, wat die boublok van enige gemeenskap is. Die boodskap van die belangrikheid van gesinne het baie goed en sterk deurgekom en moet deur almal gehoor word,” het Agapé  se senior pastoor, Sampie van Niekerk, gesê.

 

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines