

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 May 2006
“Dis net die goeie Vader daarbo wat alles so kon bewerk,” sê ‘n verligte mnr. Joao Lombard van Beja, nadat hy en lede van sy gesin die afgelope naweek wonderbaarlik ontkom het aan ‘n gewapende aanval.
Drie identies-geklede swartmans met identiese donker pette en identiese handwapens het Vrydagmiddag omstreeks 18:30 mnr. Lombard se dogter, Desiré, verras, waar sy op die plaas besig was om die groentetuin nat te gooi.
“Die drie het met militêre presisie opgetree. Hulle het Desiré en vir Willem Lourens in die huis ingedwing en sowat R1 000 aan kontant, haar selfoon, kaarte en sleutels gevat.”
Mnr. Lombard sê net voordat sy in die huis in is, het Desiré gegil. Hy en sy eggenote, Anthea, was net besig om met hul voertuig uit te ry, toe hy die gil hoor.
“Ek het uitgeklim en gaan ondersoek instel. Toe ek by die deur instap, het die aanvallers uitgestorm en my onderstebo geloop. Desiré het egter ‘n gaskannetjie vir my aangegee waarmee ek hulle kon toetakel.”
Die booswigte het afgestorm op die geparkeerde voertuig waarmee meneer en mevrou Lombard vroeër na ‘n verjaardagpartytjie onderweg was. Hulle het mevrou Lombard uit die voertuig uitbeduie, maar kon nie daarin slaag om die voertuig aan die gang te kry nie.
“Intussen het Willem binne hoorafstand hardop in Engels na Desiré geroep om ‘die vuurwapen’ vir hom aan te gee.”
Die verwarde gewapende rowers het hierop ‘n skoot afgevuur en halsoorkop die bosse in gevlug. Hulle het niemand raakgeskiet nie.
By herhaalde navraag het die polisie bevestig dat ‘n klag van poging tot moord ondersoek word, ná die gewapende aanval.
Die polisie het ook versoek dat enigiemand wat oor inligting beskik in verband met die voorval, die naaste polisiestasie moet skakel. Mnr. Lombard het hoë waardering vir die optrede van lede van die plaaswag in sy omgewing.
“Dit het vir my langer gevat om hulle te bel, as wat dit vir hulle gevat het om by my uit te kom. Dit was net ‘n paar minute, toe is hulle daar. Ons is dankbaar vir die Hemelse Vader en vir die Plaaswag.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
