

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 May 2006
‘n Bekende gesig by die plaaslike landdroshof, me. Celia Vowles, is Maandag (15de) dood aangetref in haar bed te Mel Villas-woonstelle in Andersonstraat.
Me. Vowles was sedert 2000 werksaam as stenograaf by die Soutpansberg Streekshof. Sy het slegs ingekom vir werk as daar ‘n hofsitting sou wees en is verlede Donderdag laas lewend gesien.
Daar was eers Maandag weer ‘n hofsitting. Toe me. Vowles nie opgedaag het vir werk nie, is daar onraad vermoed.
Plaaslike beheeraanklaer Reino Mostert, tesame met stafsersant Van Schalkwyk van die lugmagbasis, is na me. Vowles se woonstel. Met hul aankoms het hulle haar deur die venster in haar bed gewaar. Haar woonstel se deur is oopgeforseer, waarna die skokvonds gemaak is. Sy was toe al reeds ‘n geruime tyd dood.
Die nadoodse ondersoek is op Woensdag, 17 Mei, uitgevoer om die oorsaak van me. Vowles se dood te bepaal, maar teen druktyd was die uitslag nie bekend nie. Vowles se dogter, wat in Rustenburg woon, is van die dood in kennis gestel. Haar seun is tans in Irak.
Volgens Mostert was Vowles nooit die tipe wat gekla het nie en kon sy moontlik ‘n geruime tyd siek gewees het voordat sy oorlede is.

ADVERTISEMENT:
