

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 May 2006
Die nuutgestigte Soutpansberg Dorpswag gaan amptelik by die plaaslike rampbestuur registreer.
Dié stap, wat amptelike praktiese skakeling en administratiewe reëlings kan vergemaklik, is vandeesweek bekend geneem op ‘n vergadering van alle betrokke inwoners.
Die Dorpswag het reeds verskeie radio’s en ander skenkings ontvang en inwoners aangemoedig om verder mee te help met skenkings en vrywillige diensbeurte om te help met die beveiliging van die dorp. ‘n Skenking van R10 000 van P&L Hardeware is by die vergadering met dank erken.
Magneetstroke met die dorpswag se nuutontwerpte logo sal eersdaags beskikbaar wees om patrollievoertuie te identifiseer.
Op die vergadering is met waardering kennis geneem van die pogings van die munisipaliteit om oorgroeide persele en ruigtes op die dorpsmeent skoon te sny en op te ruim.
Die vergadering het egter ontevredenheid uitgespreek oor die algemene onbevredigende vlak van dienslewering ten opsigte van kragtoevoer, waterverskaffing en riolering en ook gewys op die algemene swak toestand en vuil voorkoms van strate in die dorp.
Die bestuur het onderneem om, in oorleg met die Soutpansberg Sakekamer, skriftelik sterk standpunt in te neem en by die Stadsraad aan te dring op ‘n onmiddellike verbetering van standaarde.
“Ons dring daarop aan dat die munisipaliteit sy huis in orde moet kry ten opsigte van alle dienslewering. Ons wil ordentlike diens in ‘n ordentlike skoon dorp hê,” het die voorsitter, dr. Philip Venter, gesê.
Die moontlikheid van ‘n ultimatum, waarin die munisipaliteit drie maande gegun sal word om sy huis in orde te kry, voordat die inwoners die praktiese implementering van ‘n betaalboikot sal oorweeg, is op die vergadering geopper. Die aangeleentheid sal formeel op hoë vlak opgeneem word.
Die dorpswag se verskillende sektore sal voortaan gereeld aandag gee aan opleiding en praktiese oefening. Alle inwoners is aangemoedig om so ver moontlik in te skakel by die aksies van hul betrokke blokke.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
