

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 September 2004
MAKAHDO (LOUIS TRICHARDT) - ‘n Vuurwapen van groot historiese belang gaan dalk bewaar bly om in ‘n plaaslike museum uitgestal te word.
Inga Gilfillan en Charles Leach is op die spoor van ‘n geskiedkundige vuurwapen wat aan pionier Joao Albasini behoort het, ‘n vuurwapen wat uiteindelik in die Skermutselingsmuseum by die Lalapanzi Hotel bewaar sal word.
Mnr. Pikkie Truter, vorige hoof van Hoërskool Louis Trichardt, het mev. Gilfillan verwittig dat, onder die vuurwapens wat destyds in die skool se museum gehou is, ‘n vuurwapen was wat aan Joao Albasini behoort het. Intussen het die polisie beslag gelê op die ou wapens. Die wapens was destyds gelisensieerd, maar die lisensies van die wapens het verlore geraak. Die “onwettige wapens” se lot sou wees om vernietig te word.
Op 27 Augustus het Gilfillan en Leach ‘n afspraak met kaptein Bezuidenhout gehad om die vuurwapen wat aan Joao Albasini behoort het, te siene te kry en te keer dat die geskiedkundige erfenis vernietig word. Kaptein Bez Bezuidenhout is in beheer van die vuurwapenafdeling in die hele Vhembe-distrik. Die wapens waarop daar by die hoërskool beslag gelê is, is in die wapenkluis van die SAPD Makhado geplaas. Omdat die wapenkluis vol wapens en ander gesteelde goedere gepak was, kon hulle nie die geskiedkundige wapen te siene kry nie. Dit sal ‘n tyd neem om eers die wapen daar uit te kry.
SAHRA (South African Heritage Resources Agency) is genader as deel van die poging om die vuurwapen van Albasini, wat deel van ‘n kultuurerfenis vorm, te red. Me. Regina Isaacs van SAHRA het haar steun toegesê aan die projek om die besondere vuurwapen van historiese waarde te beskerm.
Suid-Afrikaanse erfstukke en erfenis voorwerpe word gereguleer deur die Nasionale Erfenis Hulpbronne Wet, Nr 25 van 1999. Die wet beskerm daardie wapens wat van sulke besondere betekenis is dat hulle deel vorm van die nasionale erfenis.
Daar is verskeie riglyne om te bepaal wanneer ‘n vuurwapen beskou word as ‘n erfenis voorwerp. Daar word gekyk na vuurwapens wat gebruik is in oorloë en veldslae binne die landsgrense, asook in ander lande waar sulke wapens deur Suid-Afrikaners gebruik is. Vuurwapens met inskripsies daarop wat bewys dat dit deur ‘n Suid-Afrikaanse geweersmid of -handelaars ingevoer is, asook vuurwapens wat gebou is van ingevoerde onderdele, word as erfenis-stukke beskou. Vuurwapens wat behoort het aan bekende historiese figure en jagters resorteer definitief ook onder erfenisvoorwerpe wat beskerm word en daarom het SAHRA hulle gewig agter hierdie projek ingegooi. Besonderhede van die geskiedkundige vuurwapen, soos die vervaardiger, kaliber en naastenby die jaar van vervaardiging, moet by die aansoek vir beskerming ingesluit word.
Mev. Gilfillan het verder met mnr. Carvel Web, lid van die Suid-Afrikaanse Wapen en Ammunisie Versamelaarsvereniging gepraat. Dit word oorweeg om die geskiedkundige wapen van Albasini uiteindelik toe te sweis, sodat dit nie meer as ‘n vuurwapen geklassifiseer en gelisensieer hoef te word nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
