ADVERTISEMENT:

 

Onward Muchagowa (regs), afgeneem tydens 'n vorige hofverskyning, besig om te konsulteer met sy regsverteenwoordiger kort voordat hy sy borgaansoek gebring het.

Klagte is te ernstig om borg toe te staan, sê hof

 

News  Date: 09 June 2017

 

Die aantygings teen die drie mans wat teregstaan op klagte van renosterstropery is te ernstig om borg aan hulle toe te staan.

Dit is een van die bevindings wat landdros Bennie Smith gemaak het toe hy Deon van Deventer (48), Niklaas van Deventer (51) en Onward Muchagowa (41) se borgaansoek afgekeur het. Die drie mans het verlede Vrydag gedweë die Louis Trichardt Distrikshof verlaat en teruggekeer na hul wagtende tronkselle.

Smith het verder in sy uitspraak gesê dat die kanse te groot is vir die Van Deventers om weer renosters te gaan jag as hulle vrygelaat sou word. Wat betref Muchagowa, het Smith gesê dat hy ‘n vlugrisiko is, ongeag dat hy sy paspoort ingehandig het by die polisie, en sal probeer terugkeer na sy familie in Zimbabwe. Smith het die Staat gelyk gegee dat ‘n paspoort deesdae nie meer nodig is om tussen die twee landsgrense te beweeg nie, en dat dit maklik sal wees vir Muchagowa om sy bates en besigheid te verkoop en te vlug.

Buiten vir hierdie redes het Smith ook gesê dat die onwettige jag op renosters ‘n landswye probleem is wat aangespreek moet word. “Selfs in hierdie hof is sulke sake ‘n probleem. Hierdie hof hanteer op hierdie oomblik drie verskillende renoster verwante sake,” het Smith Vrydag gesê in sy uitspraak.

Muchagowa en die twee broers word daarvan beskuldig dat hulle onwettig in die besit van ‘n renosterhoring was. Die drie staar ook klagte van die onwettige jag van renosters in die gesig.

Die drie is op 6 Januarie gearresteer, nadat hulle na bewering ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tyde van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hulle bakkie se venster uitgegooi het. Daar word vermoed dat die mans verbind kan word met twee afsonderlike gevalle waar renosters doodgeskiet en gestroop is van hulle horings.

Die feit dat die twee broers al voorheen skuldig bevind is op aanklagte wat verband gehou het met die dood van 11 renosters, het ook swaar teen hulle getel. “Hulle is professionele jagters - dit is wat hulle doen vir ‘n lewe. Omrede die baie geld wat hulle kan verdien [met die verkoop van renosterhorings] – sou hulle vrygelaat word op borg – sal dit maklik vir hulle [Van Deventers] wees om hulle onwettige aktiwiteite te hervat,” het Smith gesê.

Die Staat het ‘n pleitooreenkoms wat Deon en Niklaas aangegaan het ingedien as bewys hiervan.

Vanaf 14 Desember 2005 tot Mei 2006 het Deon skuldig gepleit op ses aanklagte wat verband gehou het met die dood van 11 renosters. In een geval het hy twee renosterbulle en een –koei naby Mbabane in die Kruger Nasionale Park doodgemaak en hul horings gestroop. Deon is toe gevang en op 29 Mei 2006 op borg van R10 000 vrygelaat. In die daaropvolgende drie maande het Deon skuld erken op ‘n verdere drie aanklagte wat verband gehou het met die dood van nog ses renosters.

Ná die uitspraak het al drie die mans die hof verlaat en versoek dat hul prokureurs hulle vergesel na die aanhoudingselle. Die drie sal nou in aanhouding bly totdat hulle kriminele verhoor afgehandel is. Al drie sal weer op 10 Julie in die hof moet verskyn, waarna daar na verwagting ‘n verhoordatum gegee sal word. 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines