ADVERTISEMENT:

 

SBBV sal ná hofsaak antwoorde gee

 

News  Date: 10 June 2017

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het hierdie week aangedui dat hulle nie nou enige vrae sal beantwoord oor die beweerde wanbestuur van lede se fondse of hoe daar moontlik honderde duisende rande uit hul eie rekeninge verdwyn het nie.

Die spreekwoordelike “bom” het verlede maand gebars toe die SBBV se voormalige bestuurder, Phillip Olivier, gearresteer is op klagte dat hy die honderde duisende rande van die SBBV, en derhalwe die belastingbetalers, gesteel het. Hy het op 19 Mei in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op klagte van diefstal en is op R2 000 borg vrygelaat.

Die SBBV het Maandag (5de) gereageer op vrae wat die koerant kort ná Olivier se hofverskyning aan hulle gerig het oor die beweerde wanbestuur van lede se fondse. “Die bestuur het eenparig besluit om my vorige skrywe aan jou te handhaaf, waar ons twee hofdatums in Junie maand het waarvoor die nodige ondersoeke gedoen word vir die kriminele en siviele sake teen Phillip Olivier. Ons sal weer reageer op die uitkoms van hierdie sake,” het die e-pos van mev. Inga Gilfillan, voorsitter en interim SBBV bestuurder, gelees in antwoord op die koerant se navraag. Gilfillan het bygevoeg dat dit die SBBV se prioriteit is om gelde verskuldig aan die vereniging en sy lede terug te kry.

Ná aanleiding van ‘n interdik wat die SBBV in Mei teen Olivier gekry het (om te verhoed dat die R200 000 wat hy in sy prokureur se rekening inbetaal het aan hom terugbetaal word) het die Zoutpansberger die interdik, asook stawende bewysstukke wat die SBBV saam met die interdik by die hof geliasseer het, van nader bekyk.

Hieruit blyk dit dat die SBBV se bestuur reeds in Januarie vanjaar onraad begin vermoed het. Olivier was glo die enigste persoon met toegang tot die SBBV se bankrekening. Talle SBBV-lede het begin kla dat, ten spyte daarvan dat hulle maandeliks geld aan die SBBV oorbetaal vir die vereffening van hulle munisipale rekenings, hul elektrisiteit weens nie-betaling afgesny is. Dit het die SBBV genoop om inderhaas ‘n forensiese oudit te doen, wat daartoe gelei het dat die SBBV blykbaar in Maart ‘n kriminele klag teen Olivier by die Makhado polisie ingedien het.

Ingevolge die ouditverslag is daar ‘n tekort opgespoor van R274 068 gedurende die tydperk vanaf 1 Augustus 2016 tot 31 Januarie 2017. Olivier sou glo ook op 28 Mei 2015 en 1 Junie 2015 onderskeidelik betalings van R50 000 en R100 000 gemaak het vanuit die SBBV se rekening in sy eie rekening. Die betalings het glo gereflekteer as lenings wat die SBBV aan Olivier gemaak het.  

Volgens die Makhado Polisie beloop die totale bedrag van die beweerde onregmatige onttrekkings wat Olivier sou gemaak het ‘n rapsie meer as R500 000. Die R200 000 wat Olivier in Februarie in ‘n trustrekening by sy prokureur, mnr. Charles Pieterse, inbetaal het, was blykbaar as sekuriteit, hangende die uitkoms van ‘n skikking tussen hom en die SBBV. Die twee partye se samesprekings het egter nie op ‘n gunstige uitkoms afgestuur nie. Die redes is onduidelik, maar op 9 Mei het Olivier summier die dienste van sy prokureur beëindig en geëis dat die R200 000 binne 24 uur aan hom terugbetaal moet word. Die SBBV het hiervan te hore gekom en hulle prokureur, mnr. André Naude, versoek om ‘n dringende hofinterdik te bekom. Hierdie interdik is op 10 Mei aan die SBBV toegestaan in die Louis Trichardt Landdroshof. In terme van dié dokument is die R200 000 nou as’t ware “gevries” totdat die ouditeurs en die polisie hul ondersoek afgehandel het.

Intussen is Olivier se saak uitgestel tot 14 Junie vir die afhandeling van die polisie-ondersoek. Dit is ook die keerdatum vir die SBBV se interdik, waarna daar ná verwagting ‘n beslissing gemaak sal word oor die uitbetaling van die R200 000.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines