ADVERTISEMENT:

 

SBBV swyg steeds oor vermiste geld

 

News  Date: 25 June 2017

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) swyg nog steeds oor die beweerde wanbestuur van lede se fondse en hoe daar moontlik honderde duisende rande uit hul eie rekeninge verdwyn het.

Die SBBV se voormalige bestuurder, Phillip Olivier, is verlede maand gearresteer in verband met die vermiste geld. Hy het op 19 Mei op klagte dat hy die honderde duisende rande van die SBBV, en derhalwe die belastingbetalers, gesteel het, in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn.

Buiten vir die kriminele klag wat gebring is, het die SBBV ook ‘n dringende hofinterdik teen Olivier bekom om te verhoed dat ‘n bedrag van R200 000, wat Olivier ná bewering in sy prokureur se rekening inbetaal het, weer aan hom uitbetaal word.  

So ver die koerant kon vasstel is hierdie interdik verlede Woensdag, 14 Junie, tersyde gestel, nadat die SBBV en Olivier blykbaar ooreengekom het dat hy alle verskuldigde gelde aan die SBBV sal terugbetaal. Indien nie, sal Olivier weer op 28 Augustus in die hof moet verskyn en sal daar voortgegaan word met die kriminele klag van diefstal teen hom.

Kort ná die SBBV die hofinterdik teen Olivier bekom het, het die Zoutpansberger die stawende bewysstukke wat daarmee saam ingedien is van nader bekyk. Daaruit het dit geblyk dat Olivier glo die enigste persoon was met toegang tot die SBBV se bankrekening. Nadat SBBV-lede begin kla het dat hul elektrisiteit weens nie-betaling afgesny is, het die SBBV inderhaas ‘n forensiese oudit aangevra. Die verslag se bevindinge het daartoe gelei dat die SBBV in Maart ‘n kriminele klag teen Olivier by die Makhado polisie ingedien het.

Ingevolge die ouditverslag is daar ‘n tekort opgespoor van R274 068 gedurende die tydperk vanaf 1 Augustus 2016 tot 31 Januarie 2017. Die Zoutpansberger het betroubaar verneem dat die totale beweerde onregmatige onttrekkings glo meer as R500 000 beloop.

Weens die onduidelikheid oor die presiese bedrag wat die SBBV vermis, het daar intussen gerugte ontstaan dat die SBBV so te sê bankrot is. Hierdie gerugte is verder aangeblaas deur die feit dat die SBBV hul kantore in die dorp gesluit het en hul sekretaresse afgedank het. Die SBBV moes ook met die Makhado Munisipaliteit reël om die agterstallige geld op die geaffekteerde lede se rekeninge terug te betaal.

Teen druktyd het die Zoutpansberger steeds gewag op antwoorde van die SBBV oor die Olivier-aangeleentheid. Dit het onder meer ingesluit spesifieke vrae rondom die SBBV se regstatus om geld namens lede in te samel, of hulle jaarliks hul finansiële state aan lede voorgelê het tydens hulle algemene jaarvergadering, hoe gereeld hierdie finansiële state geoudit is en of notules van vorige jaarvergaderings beskikbaar is? Dit is egter duidelik dat die SBBV steeds verkies om te swyg wat betref hul hantering van openbare fondse en dat hulle volstaan by ‘n besluit wat hulle as bestuur op 5 Junie geneem het. In ‘n e-pos aan die koerant skryf die SBBV se waarnemende waarnemende voorsitter, me. Inga Gilfillan, dat die bestuur eenparig besluit het om geensins op medianavrae te reageer alvorens die hofsaak teen Olivier afgehandel is nie.

(Artikel aangepas van 'n vorige weergawe).

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines