

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 May 2006
“Die mense van ons dorp is ongelooflik. Ek het so baie om voor dankbaar te wees,” sê ‘n stralende Petro van den Berg tussen al die ruikers en blomme by haar gesin se woning, waar sy en haar eggenoot, mnr. André van den Berg, meer as ‘n maand gelede deur ‘n gewapende rower geskiet is.
Petro is terug ná weke-lange intensiewe behandeling, waartydens aanvanklik vir haar lewe gevrees is. Sy ontvang nog nasorg, maar is helder, flink en dapper op pad na volkome herstel.
Die aanvaller se koeël het eers vir André in die bo-arm en bors en toe vir Petro in die kop getref.
“As dit nie vir André was nie, was ek dood. Ek was aan die venster se kant op die bed. André het verbygekom en by die venster ondersoek ingestel, waar ons klein Jack Russel ernstig alarm gemaak het. André is raakgeskiet toe hy van die venster af weggedraai het om my te beskerm. Sy lyf het die impak van die koeël vir my versag en so noodlottige skade gekeer,” sê Petro, terwyl sy die gebeure van daardie nag beskryf.
Petro het ná intensiewe noodbehandeling wonderbaarlik herstel. Daar was aanvanklik kommer oor moontlike verlamming aan haar linkerkant, waar haar arm en sig verswak was. Dit is intussen besig om merkwaardig te herstel. Sy moet nog verder geleidelik aansterk deur fisioterapie, maar sy stap en beweeg reeds sonder opvallende moeite.
“Soms sukkel ek nog bietjie met my balans. Daar lê nog ‘n lang pad voor, maar ek het reeds baie om voor dankbaar te wees,” sê Petro met kenmerkende blymoedigheid. Sy skerts selfs al oor die geweldige angs wat sy snags beleef en nog moet oorkom.
André en Petro is dit eens dat die volgehoue voorbidding en meelewing deur vriende, kennisse en ander gelowiges ‘n beduidende aandeel het in haar merkwaardige herstel. “Ons vertrou die Here vir haar volkome herstel,” sê André.
Benewens die reuse mediese en reiskoste (dit beloop reeds digby R1-miljoen) wat die aanval vir die sake-egpaar meegebring het, is daar ook hul onderskeie sakebelange wat in die gedrang gekom het weens hul langdurige afwesigheid. André se haarkapperonderneming het aanvanklik heeltemal tot stilstand gekom. Hulle het hoë waardering vir die wyse waarop Mark en Dalene Wingrove Petro se eiendomsagentskap in haar afwesigheid hanteer het. Hulle sal daarmee voortgaan, terwyl Petro nog verder aansterk en dikwels afwesig moet wees om fisioterapiesessies by te woon.
“Mark was voorheen betrokke en Dalene het hom intussen kom bystaan as voltydse sekretaresse. Ek is dankbaar dat die regte mense so op die regte tyd op die regte plek beskikbaar was,” sê Petro.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
