

ADVERTISEMENT:

Die waarnemende voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging, mev. Inga Gilfillan.
News Date: 29 June 2017
Die waarnemende voorsitter van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV), mev. Inga Gilfillan, het die afgelope week op sosiale media uitgevaar teen die Zoutpansberger en die koerant daarvan beskuldig dat hulle leuens verkondig en die komiteelede beswadder.
Mev. Gilfillan het Donderdag (22ste) in ‘n telefoniese gesprek haar ongelukkigheid uitgespreek oor die foute in die berig oor die SBBV wat in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger verskyn het. Sy is toe uitgenooi om die foute uit te wys, sodat die nodige regstellings, indien nodig, gedoen kan word. Mev. Gilfillan is ook genooi om saam met haar komitee met die Zoutpansberger te vergader, sodat daar geluister kan word na die griewe. Die SBBV is weer versoek om te reageer op ‘n lys vrae wat etlike weke gelede al deurgestuur is. Teen druktyd het hulle steeds verkies om dit nie te doen nie.
Die SBBV se probleme het vroeër vanjaar begin toe daar agtergekom is dat geld na bewering onregmatig uit die vereniging se rekening verwyder is. Die vingers is gewys na die SBBV se bestuurder, mnr. Phillip Olivier, wat direkte toegang tot die fondse gehad het. Die SBBV het ‘n ouditeur opdrag gegee om ‘n forensiese oudit te doen. Die oudit het gewys dat kwitansies uitgereik is vir geld wat ontvang is, maar dat dit nie gestrook het met die inbetalings in die bankrekening nie. Die bedrag ter sprake was ‘n rapsie meer as R274 000.
In die forensiese ondersoek is ook bevind dat die munisipale rekeninge van Olivier en familielede uit die SBBV se rekening betaal is, sonder dat daar na bewering magtiging verkry is daarvoor. Die bedrag wat hier gemeld is, was net meer as R34 400. Hierbenewens het hy ook R200 000 oorbetaal in die rekening van ‘n ander besigheid wat Olivier bedryf het.
Sake tussen die SBBV en Olivier het vermoedelik in Februarie tot so ‘n mate versuur dat hy ‘n plaaslike prokureur gaan sien het om hom te verteenwoordig in die geskil. Hy het ook R200 000 in ‘n trustrekening by die prokureur geplaas as “sekuriteit” terwyl die geskil voortduur.
Die SBBV het in Maart vanjaar kriminele klagte teen Olivier by die Makhado polisiestasie gelê. Die saak het egter baie vinniger in die hof ‘n draai gemaak toe die SBBV ‘n dringende hofbevel moes bekom om te keer dat die R200 000 in die trustrekening aan Olivier uitbetaal word. Olivier het die dienste van sy prokureur beëindig en versoek dat die geld oorbetaal word.
Die SBBV was suksesvol in hul aansoek en op 10 Mei is die bevel gemaak dat die fondse vir eers gevries is. Dit was ook rondom hierdie tyd dat die gerugte van die probleme die koerant bereik het. Mev. Gilfillan is genader vir kommentaar. Sy wou nie besonderhede verskaf nie en het gesê die vrae is na die SBBV se komitee verwys. Hulle het egter besluit om eers te antwoord nadat die regsprosesse voltooi is.
Die keerdatum vir die hofbevel was 14 Junie, toe die partye weer in die hof moes verskyn. Tydens die verskyning is ‘n skikkingsooreenkoms aan die hof voorgelê. Hiervolgens het Olivier ingewillig om R505 000 aan die SBBV terug te betaal. Die R200 000 wat in die trustrekening gehou is, moes binne sewe dae oorbetaal word. Die oorblywende R305 000 moet binne 30 kalender dae betaal word. Benewens dié skuld, moet Olivier ook R8 900 terugbetaal vir ‘n selfoonkontrak en R5 000 vir ‘n bonus wat betaal is. Olivier is ook verantwoordelik vir die regskoste van R30 714 en die ouditkoste van R15 714.
Die ooreenkoms, wat deur die hof bekragtig is, vereis egter dat die SBBV alle kriminele aanklagte teen Olivier terugtrek sodra die skuld betaal is.
Die vrae wat voor en ná die hofverskyning aan die SBBV gestuur is, fokus op die werksaamhede van die vereniging die afgelope twee jaar. Onder meer is navraag gedoen oor die hoeveelheid opbetaalde lede van die SBBV, of die vereniging finansiële state tydens ‘n jaarvergadering beskikbaar gemaak het en of ‘n afbetalingsooreenkoms in plek is met die Makhado Munisipaliteit.
Tydens die telefoniese gesprek verlede Donderdag het mev. Gilfillan beswaar gemaak omdat daar na haar verwys is as waarnemende bestuurder van die SBBV en nie as waarnemende voorsitter nie. Sy het later gesê die sekretaresse, Loureth Otto, kan optree as tydelike bestuurder. Sy het ook die stelling dat die SBBV hul kantore gesluit en hul sekretaresse se diens beëindig het, as loutere snert afgemaak. Sy het gesê die sekretaresse is steeds in diens en die kantore het bloot verskuif na hul huis in 111 Kroghstraat.
Mev. Gilfillan was veral ontsteld omdat die berig in die Zoutpansberger daarop gesinspeel het dat die SBBV tegnies bankrot is, omdat die vereniging se laste die bates oorskry. Sy het dit ten sterkste ontken. “Alle elektrisiteitsgelde verskuldig aan die munisipaliteit is betaal en niks is agterstallig nie,” het sy Maandag op sosiale media geskryf.
Wat die SBBV se bedrywighede betref, het mev. Gilfillan bevestig dat die vereniging nie verlede jaar ‘n algemene jaarvergadering kon hou nie. Die rede hiervoor was klaarblyklik omdat nie genoeg lede opgedaag het om ‘n kworum te verkry nie.
Wat die toekoms van die SBBV betref, het mev. Gilfillan Dinsdag in ‘n boodskap op Facebook gesê dit is in die hande van die lede. “Die vereniging self sal besluit of hy wil voortgaan of nie. Indien nie sal dit tot nadeel van elke belastingbetaler insluitende jy wees,” het sy gesê.
(Die Zoutpansberger bied apologie aan vir foute in die vorige berigte, soos uitgewys deur mev. Gilfillan. – Redakteur)
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
