ADVERTISEMENT:

 

'n Foto van Dawie Groenewald, geneem tydens een van sy vorige hofverskynings in die Messina Landdroshof. 

Amerikaanse owerhede het visier op Groenewald broers

 

News  Date: 30 June 2017

 

Limpopo wildboer Dawie Groenewald (48) en sy broer Janneman (46) het verlede Vrydag vlugtig in die Polokwane Landdroshof verskyn, nadat hulle die vorige dag deur Interpol gearresteer is. Dawie is op R50 000 en Janneman op R10 000 borgtog vrygelaat.

Interpol se optrede teen die broers volg nadat beide reeds in 2014 deur die Amerikaanse regering aangekla is van beweerde oortredings wat verband hou met die verkoop van onwettige renosterjagtogte aan jagters in Amerika.

Daar is altesaam 18 aanklagte teen die Groenewalds se onderneming, Out of Africa Adventurous Safaris, gebring deur die Amerikaanse vis- en wildlewediens. Verder word die twee broers ook daarvan aangekla dat hulle saamgesweer het om posbedrog te pleeg. Hulle sou na bewering wetgewing oortree het wat die verkoop van onwettige jagtogte verbied, en sodoende hulself skuldig gemaak het aan internasionale geldwassery.

Die internasionale nuusdiens Agence France-Presse (AFP) het in 2014 berig dat George Beck, toe die prokureur-generaal in die Amerikaanse staat Alabama, gesê het dat die broers Amerikaanse burgers “gekul, belieg en bedrieg” het, sodat hulle geld kon maak uit onwettige renosterjagtogte. “Nie net het hulle Suid-Afrikaanse wette oortree nie, maar hulle het hul konkelgeld deur ons banke hier in Alabama gewas, waar Janneman Groenewald van 2005 tot 2010 gewoon het,” het Beck gesê.

Die Amerikaanse Departement van Justisie voer aan dat die Groenewald-broers tussen 2005 en 2010 verskeie jagkonferensies en wapenskoue in die VSA bygewoon het, waar hulle jagtogte en verblyf op hul plaas Prachtig buite Musina verkoop het. Altesaam 11 onwettige jagtogte word in hofdokumente genoem.

Die jagters het glo sowat R650 000 per jagpakket betaal. Daar is aan hulle gesê dat, alhoewel die karkas en horings nie uitgevoer mag word nie, kan die jagters die renoster skiet, saam met die dier op ‘n foto poseer en dit in ‘n rekordboek laat aanteken, alles teen ‘n "afslagprys".

Die Groenewalds word ook daarvan aangekla dat hulle nagelaat het om ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing die nodige permitte vir die jagtogte te kry en dat hulle van die horings met kettingsae en messe afgesny het. Hulle word ook daarvan aangekla dat hulle na bewering van die renosterhorings in die sluikhandel verkoop het. Die Amerikaanse jagters wat aan die jagtogte deelgeneem het, is nie aangekla nie.

Buiten vir dié nuwe klagte teen hom, staan Dawie en nege medebeskuldigdes ook nog tereg op 1 872 ander klagte wat verband hou met onder meer onwettige jagtogte en permitoortredings in die Pretoriase Hooggeregshof. Hy en sy medebeskuldigdes se verhoor het nog nie begin nie, deels omdat hulle regspan hoop dat die onlangse opheffing van die binnelandse moratorium op die verkoop van renosterhorings die Nasionale Vervolgingsgesag sal noop om die saak van die hofrol te skrap. Hierdie saak is uitgestel tot en met Januarie volgende jaar.

Intussen moet Dawie en Janneman weer op 14 Augustus in die landdroshof in Polokwane verskyn. Dit hou verband met ‘n uitleweringsversoek wat vanaf die Amerikaanse owerhede ontvang is.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines