

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 June 2017
Die Suid-Gautengse Hooggeregshof het Woensdag beveel dat openbare skole nie ‘n bepaalde geloof mag voorstaan tot uitsluiting van ander nie. Regter Willem van der Merwe het voorts gesê dat godsdiensbeoefening by sulke skole op ‘n billike, vry en vrywillige grondslag moet geskied.
In ‘n persverklaring wat Woensdag uitgereik is, sê die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) dat hulle die uitspraak eers volledig sal bestudeer alvorens op stappe besluit word.
Dié belangrike toetssaak het sy oorsprong in 2014, toe die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie die hof versoek het om dit ongrondwetlik te verklaar dat sekere godsdienspraktyke voorkeur geniet bo ander. Ses skole is in die aansoek genoem. Die beheerliggame van die ses skole is lid van FEDSAS en die organisasie het dus die skole in die hofsaak bygestaan.
“Twee bevele is toegestaan tot die effek dat openbare skole nie ʼn bepaalde godsdiens mag bevorder ter uitsluiting van ander nie of dat ʼn openbare skool mag voorhou dat hy die belange van een godsdiens bevorder nie. Die meerderheid bevele wat versoek is, is egter van die hand gewys. Die kern van die uitspraak is dat godsdiensbeoefening wél deel van ʼn skoolopset mag vorm, maar dat dit binne die raamwerk van artikel 15 van die Grondwet geskied,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. “FEDSAS was van meet af aan ten gunste van vrywillige godsdiensbeoefening. Wat FEDSAS wel teengestaan het, is die totale verwydering van enige vorm van godsdiensbeoefening vanaf die skoolterrein. Hierdie uitspraak is nie soortgelyk aan die Amerikaanse model van skeiding tussen kerk en staat nie. Dit is eerder die bekragtiging van die Suid-Afrikaanse Grondwet se klem op verdraagsaamheid en diversiteit.”
Volgens Colditz is ʼn belangrike deel van FEDSAS se strewe om gehalte-onderwys by openbare skole te behou en bevorder dan ook die bevordering van Suid-Afrikaners se begrip van hul grondwetlike regte. “As gerekende onderwysrolspeler is dit FEDSAS se plig om sy lede, en daardeur ook ons land se kinders, te help om die volle omvang van ons diverse samelewing te navigeer en te waardeer,” sê hy in die verklaring.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
