

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 July 2017
’n Kammakastige “melkboer” het klaarblyklik sy visier gestel op die welverdiende geld van Louis Trichardt se inwoners.
Verlede week het ‘n ene “Boet Rousseau” Laerskool Louis Trichardt bedrieg uit selfoonlugtyd met ‘n soortgelyke liegstorie as waarmee “Johan Botha” Ons Tuiste Ouetehuis in Januarie vanjaar gekul het.
Boet Rousseau (duidelik nie sy regte naam en van nie maar ‘n alias) sal instansies om die bos lei met ‘n lang storie dat hy graag verwerkte vleis aan hulle wil skenk. Al wat hulle moet doen is om dit onmiddellik te kom haal op sy plaas. Dan sal hy die organisasies versoek om R275 in selfoonlugtyd vir hom te koop aangesien hy nie van die plaas af kan kom nie.
In die laerskool se geval het “Boet” glo melkbeeste uitgeslag waarvan hy die vleis wou "skenk" aan die skoolkoshuis. Iemand moes dit net gaan afhaal op sy plaas Sarel Cilliers naby Schoemansdal, maar aangesien hy nie van die plaas kon wegkom nie, moes die skool sommer vir hom net bietjie lugtyd koop en saamstuur.
Die skoolhoof, mnr. Louis Linde, het uit sy eie sak geld gehaal om R275 se lugtyd te koop en saam te stuur. ‘n Studente-onderwyser van die skool is gestuur met die skool se bakkie om die vleis te gaan afhaal.
Terwyl hulle op pad was het “Boet” weer gebel en gevra of mnr. Linde nie maar vir hom solank die lugtyd se PIN-nommer wou stuur nie. “Boet” se vrou was glo op die Internet besig en sy eie lugtyd was amper opgebruik.
“Ons doen dit toe. Die man is dan so gaaf om vir die koshuis vleis te gee!” het mev. Elsje Linde gesê.
Die oomblik toe die PIN aangestuur is, het “Boet” ook sommer asof in die niet verdwyn en ook nie weer die telefoon geantwoord nie. Nodeloos om te sê het hulle nooit die plaas gekry nie.
“Dit was nou maar skoolgeld wat ons moes betaal het,” het Elsje Woensdag aan die koerant gesê.
Hulle het die oproep met die selfoonprogrammetjie (App) TrueCaller nagespeur, wat wys die nommer is geregistreer in die naam van ‘Leon Scheepers Boer’.
Al wat Louis kon doen was om vir “Boet” toe maar in sy peetjie te stuur in ‘n sterkbewoorde SMS. Die presiese inhoud van dié boodskap kan nou nie woord-vir-woord herhaal word in die koerant nie, maar kortliks is “Boet” gewaarsku om sy weë te verander of die risiko te loop om in ‘n baie warm plek op te eindig. Elsje het inwoners op sosiale media gewaarsku om waaksaam te wees vir sulke skurke.
Elsje en Louis was egter nie die enigste persone wat “Boet” met ‘n slap riem gevang het nie. Ná Elsje se waarskuwing het nog mense na vore gekom wat deur “Boet” gevang is. Alhoewel “Boet” sy selfoonnommer elke kort-kort verander het, het sy storie amper woord-vir-woord onveranderd gebly.
“Boet” se plaas verskuif ook elke keer. Hy het in Desember verlede jaar Francois du Preez, ‘n elektrisiën van Louis Trichardt, gekul uit R550 se lugtyd. Francois het aan die koerant hierdie week vertel dat “Boet” destyds hom geskakel het met ‘n werksaanbod. “Boet” se melkery, wat in daardie stadium 17km noord van Louis Trichardt was op die Messinapad, kon nie bedryf word nie want daar was fout met sy kragtoevoer. Ag, en omdat Francois dan nou klaar op pad is plaastoe, sal hy dan nie ook so gaaf wees om vir die oom lugtyd saam te bring nie. Die oom, het Francois vertel, was so gaaf om aan te bied om hom R50 ekstra vir die lugtyd te betaal as hy op die plaas is.
Francois kon ook nie die “plaas” haal voordat “Boet” geskakel het om sy lugtyd se PIN-nommer te kry. “Ek het eers daar by Ingwe Hotel besef dat daar nie ‘n melkplaas is nie en dat ek gevang is,” het Francois gesê.
Marlene Mounsear-Wilson het op die koerant se Facebook-blad laat weet dat hulle in Polokwane ook deur dié swendelaar gevang is. Nog ‘n inwoner van Louis Trichardt, Erika Burger-Ackerman, was gelukkig paraat en het nie vir “Boet” se praatjies geval nie. Erika vermoed dat dit dieselfde “Boet” is. ‘n Afrikaanssprekende man, vertel Erika, het Bearing Man in November verlede jaar gekontak. Daar was fout met een of ander enjin op sy melkplaas en hy wou onderdele bestel. Hy het egter vreeslik ongeskik begin raak met Erika en die ander personeel toe hulle vir hom sê dat sy plaas nie bestaan nie. Volgens die man het hy ‘n melkplaas gehad op die Messinapad naby die silo’s. Die man het verder gedreig om Bearing Man se hoofkantoor te skakel en te kla oor hulle slegte en onprofessionele diens. In ‘n stadium het hy gedreig dat hy Bearing Man op Louis Trichardt sal “toemaak”.
“Mense moet maar net paraat wees vir sulke mense. Sekerlik as ‘n ou se lugtyd opraak is dit redelik om te vra vir R30 of so, maar nie vir meer nie,” het Erika gesê.
Inwoners word gewaarsku om versigtig te wees vir die vrygewige melkboer, veral omdat dit so moeilik vir die polisie is om hierdie tipe sake te ondersoek. In Boet en Johan se geval gebruik hy klaarblyklik feitlik elke ander keer ‘n nuwe nommer om mense te verkul uit lugtyd, wat hy waarskynlik dan weer self verkoop.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
