ADVERTISEMENT:

 

‘n Foto van die Geloftekerk toe dit in 1926 in gebruik geneem is. Foto verskaf.

Geloftekerk eerste besoekpunt in skattejag

 

News  Date: 06 July 2017

 

Meegaande is die eerste in ‘n reeks “leidrade” ten opsigte van die Louis Trichardt Erfeniskomitee se skattejag-kompetisie wat oor 15 weke sal strek. In die eerste uitgawe word daar gekyk na die Geloftekerk.

Vir baie inwoners en besoekers is die statige kerkgebou van alle rigtings duidelik sigbaar, ‘n “Baken op die pad van ‘n volk se geskiedenis en ‘n stille getuienis van die nakoming van ‘n plegtige gelofte” soos aangehaal uit Die Dorp Louis Trichardt deur P.H.C de Vaal.

Die agtergrond van die gelofte van die burgers by Soutpansberg, is die geweldige stryd van 1898 tussen die Boere en die inheemse bevolking in die landstreek. Kommandant-generaal Piet Joubert was in beheer van die republikeinse magte en daar is op sy voorstel ’n gelofte aan die Here gemaak. Daar is naamlik beloof dat indien die Here die ekspedisie sou toelaat om te slaag (in hul geveg teen Mphephu), die burgers ’n deel van hulle buitbeeste sou afgee om ’n Godshuis op te rig op die plek waar die boerelaer gestaan het. Omvattende navorsing van prof Johann Tempelhoff, in sy boek Dorpsmense van die Soutpansberg: ‘n Eeufeesgeskiedenis van Louis Trichardt (1899-1999) toon aan dat die beslissende geveg op 16 November 1898 plaasgevind het.

Gemeentestigting is die naweek van 23 tot 25 Maart 1906 gevier en die eerste kerkgebou word op 20 Februarie 1909 ingewy. Die gebou was 60 voet by 30 voet (20 m x 10 m) met steenmure en ‘n spits sinkdak. Hierdie gebou doen diens tot met die inwyding van die nuwe kerkgebou in 1926. Die argitek van die nuwe kerkgebou was Gerhard Moerdyk, een van die bekendste argitekte in Suid-Afrika.

Die pienk graniet waaruit beide hoekstene gekap is, was deel van die eerste kerkgebou van 1909 en word weer in 1926 gebruik met die bou van die huidige kerkgebou. Die klip is afkomstig van massiewe rotsblokke in Mphephu se stat, toe dit deur kommandant-generaal Piet Joubert se kanonskote getref is. Die hoeksteen is duidelik sigbaar in die buitenste portaal van die kerkgebou.

“Dit is ook hier by die hoeksteen, waar skattejag-deelnemers hulle ‘selfies’ moet neem,” vra die Erfeniskomitee. Hierdie foto moet dan op die Erfeniskomitee se Facebook-blad ERFENISBEWARINGS-  EN BEWUSMAKINGSKOMITEE:  LOUIS TRICHARDT EN STREEK opgelaai word.

Die kerkgebou is geleë te Erasmusstraat 23 (23° 2'31.51"S   29°54'26.30"E) en is weeksdae van 08:00 tot 13:00 en van 14:00 tot 15:00 oop vir besigtiging. “Die konsistorie is ook oop vir besoekers en bevat foto’s en vertoonkaste met historiese dokumente en memorabilia. Klop gerus by die kerkkantoor aan en vra vir ’n gratis eksemplaar van dr. Gerdrie van der Merwe se boek Ons is die stad op die berg wat vir die 100-jarige viering van die gemeente in 2006 nagevors is en deur die kerkraad gepubliseer is,” sê die Erfeniskomitee.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines