

ADVERTISEMENT:

Wyle Leon van Blerk (34). Foto verskaf.
News Date: 07 July 2017
Louis Trichardt treur hierdie week saam met die Van Blerk-gesin met die nuus van hul seun en broer Leon (34) se skielike dood.
Leon was ’n oud-leerling van Laer- en Hoërskool Louis Trichardt en die seun van Gert en Dollie van Blerk, jarelange inwoners van Louis Trichardt. Hulle seun is Vrydag omstreeks 21:30 dood in ’n motorfietsongeluk. Hy was vermoedelik onderweg na Levubu en was sowat 5km weg van Louis Trichardt af, toe die ongeluk gebeur het net na die eerste brug op die Levubu-pad.
Die omstandighede wat gelei het tot die noodlottige ongeluk is nog onderhewig aan ’n ondersoek. Leon se ouer broer, Jan, het kort nadat die ongeluk gerapporteer is, op die toneel opgedaag. In daardie stadium was hy nog nie bewus dat dit Leon was wat in die ongeluk betrokke was nie. Hy sou egter met hartseer besef dat dit Leon is wat hy in die pad sien lê het. “Hy het nog sy valhelm aangehad,” het Jan Dinsdag gesê. “Ons het geen idee wat gebeur het met Leon nie.”
Leon was verknog aan sy swart Yamaha motorfiets. “Sy fiets was sy alles ... sy passie,” het Jan gesê.
Leon se motorfiets het sowat 300m weg van Leon gelê. Sover Jan en ander omstanders kon vasstel, was daar nie ’n ander voertuig betrokke in die ongeluk nie. Daar was ook nie te veel skraapmerke op die motorfiets nie, en die skade was minimaal. Die motorfiets kon nog aansluit en verder gery word. “Ons weet nie of Leon dalk uitgeswaai het vir ’n ander voertuig of vir iets wat oor die pad gehardloop het nie. Dalk het hy ’n hartaanval gehad of so iets terwyl hy gery het,” het Jan gesê. Teen druktyd het die familie nog gewag op die uitslag van die nadoodse ondersoek.
’n Roudiens vir wyle Leon is Woensdag vanuit die Lede in Christus Kerk in Louis Trichardt gehou. Hy word oorleef deur ouers, broer Jan, tweelingsuster Linda en nog ’n suster, Amanda.
(Artikel aangepas van 'n vorige weergawe).
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
