

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 July 2017
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het na aanleiding van die Suid-Gautengse Hooggeregshof se uitspraak oor godsdiens in skole gesê dat dié uitspraak nie net rigtinggewend is in terme van beleid nie, maar ook opnuut dien as oproep vir ouers en die breër gemeenskap om betrokke te raak by skole.
In wese behoort ‘n openbare skool aan die onmiddellike gemeenskap waarbinne die skool geleë is. Die skool se beheerliggaam is verteenwoordigend van hierdie breër skoolgemeenskap en het volgens die Skolewet die gesag om besluite te neem rakende belangrike aspekte soos ‘n skool se taal- en toelatingsbeleid en ook hoe godsdiens by die skool beoefen word.
In sy uitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof het regter Willem van der Linde klem gelê op die feit dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar binne ‘n bepaalde raamwerk, insluitend die Grondwet en Skolewet. Die kern hiervan is dat ‘n bepaalde geloof nie voorgestaan mag word tot uitsluiting van ander nie. “In die hofaansoek het die Organisasie vir Godsdienste-onderrig en Demokrasie vir altesaam 77 bevele teen ses skole gevra, maar die hof het slegs twee van hierdie bevele toegestaan,” het mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS, in ‘n verklaring verduidelik. Die beheerliggame van die ses skole is lid van FEDSAS en FEDSAS het die skole in die hofsaak bygestaan.
Colditz het gesê FEDSAS se standpunt dat beheerliggame self die reëls vir godsdiensbeoefening in hul skole ooreenkomstig die Grondwet en die Skolewet kan bepaal, is gehandhaaf. Die hof het ook saamgestem met FEDSAS se argument dat die Nasionale Beleid oor Godsdiens en Onderwys nie afdwingbare reëls daarstel nie, maar eerder ‘n belangrike dokument is wat riglyne verskaf oor godsdiens in onderwys. “Die twee bevele wat toegestaan is, beteken in eenvoudige terme dat ‘n openbare skool nie ‘n bepaalde godsdiens of hoofsaaklik een godsdiens kan bevorder ten koste van ander godsdienste nie of homself kan adverteer as ‘n skool wat die belange van net een godsdiens bo ander godsdienste bevorder nie.”
Colditz het gesê verlede week se hofuitspraak het twee kernbeginsels in FEDSAS se benadering tot skoolbeheer en –bestuur bevestig, naamlik dat die Grondwet die hoogste gesag is waaraan besluite gemeet word, en dat openbare onderwys slegs suksesvol kan wees as alle rolspelers inkoop. “Om die staat te blameer vir alles wat verkeerd loop, is bloot om jou eie verantwoordelikhede op iemand anders af te skuif. Die sukses van skole het ‘n invloed op die hele samelewing, ongeag of jy kinders op skool het of nie. Die boodskap is eenvoudig: Raak betrokke by die openbare skool in jou omgewing,” het Colditz gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
