

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 June 2006
‘n Dapper 6-jarige dogtertjie, Maritza van Niekerk, is sedert Dinsdag weer tuis vanaf Polokwane waar sy in die hospitaal behandel moes word vir ernstige bytplekke, nadat ‘n hond haar in ‘n speelpark in Makhado (Louis Trichardt) aangeval het.
Maritza, ‘n Graad O-leerder, is die jongste kind van Senior Superintendent Ronnie van Niekerk en sy eggenote Carna.
Die traumatiese aanval het Saterdagmiddag omstreeks 16:00 in die speelpark in Kameelstraat plaasgevind, waar Maritza saam met haar ouer sussie en boetie en ‘n paar maatjies gespeel het. Terwyl hulle op die rondomtalie gery het, het ‘n gesinshond uit ‘n nabygeleë woonperseel losgekom en in die parkie inbeweeg. Van die kinders het probeer om die hond, ‘n jong boerboelkruising, terug te jaag. Hy het egter op die rondomtalie afgepyl en vir Maritza, die kleinste kind op die rondomtalie, aan die boud beetgekry en begin rondpluk. Terwyl die kinders desperaat probeer het om die hond van haar af weg te kry, het hy bloot ‘n bietjie gelos en haar toe weer aan die kop beetgekry.
Die kinders het intussen alarm gemaak en die eienaars van die hond het die dier met groot moeite van die kind af gekry en die kind na die kliniek gehaas, terwyl haar ouers terselfdertyd in kennis gestel is.
Die dier is van kant gemaak en daar is vasgestel dat hy nie dol was nie.
Benewens ernstige, diep bytwonde aan haar boudjie het Maritza ook bytwonde aan haar rug, been, en aan die kant van haar kop, haar wang en kakebeen opgedoen. Sy is in die plaaslike kliniek behandel en na Polokwane oorgeplaas. Aanvanklik is vermoed dat haar kakebeen gebreek is. In die hospitaal is egter vasgestel dat dit net effens versplinter is. Sy is vandeesweek (Dinsdag) uit die hospitaal ontslaan, maar sal later weer moet terug vir verdere ondersoek van die splinters aan die kakebeen.
Ten spyte van die nare ervaring is Maritza blymoedig, op en aan die gang en gretig om terug te kom by die skool. Sy het vanaf die hospitaal eers ‘n draai by die skool gaan maak om op hoogte te bly met die huiswerk, waarmee sy tuis flink besig is.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
