

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 June 2006
Dit is nou amper twee maande nadat die Soutpansberg Dorpswag begin het om in die nag patrollies te ry. Maar het die opoffering van so baie vrywilligers ‘n verskil gemaak in die dorp se misdaadsituasie? Die antwoord is ‘n definitiewe ja.
In die ysige winternag ry hulle, met soeklamp en oop venster, om die misdaad in die dorp onder beheer te bring. Die patrolliewagte van die Soutpansberg Dorpswag doen hulle nagtelike werk in die stilte, sonder om erkenning vir hul opoffering te vra. Die groenliggievoertuie se lang nagskofte begin reeds vrugte afwerp.
Dr. Philip Venter, voorsitter van die Dorpswag, sê dat daar tans baie min insidente voorkom.
“Daar is ‘n bietjie betreding, maar nie suksesvolle inbrake vandat ons besig is nie.”
Ds. Willem Boshoff stem saam. “Na ongeveer ‘n maand van patrollies lyk dit of misdaad in die dorp afgeneem het. Daar was nog nie weer ernstige voorvalle nie en ek hoor nie meer dat die selfoon- en beursiegrypers aktief is nie,” sê ds. Boshoff. Hy sê waar daar voorheen by vyf uit nege huise in een gedeelte van Sektor 2 ingebreek is, is dit nou stil.
‘n Paar weke gelede het die Dorpswag ná 03:00 gesteelde goedere in Kokstraat gevind, onder andere ‘n hoëtroustel en ‘n DVD-speler. Die voorval word verbind met ‘n persoon wat vroeër die aand deur die patrollie ondervra is. Die vorige aand is ‘n kruiwa met gesteelde goedere gevind.
Dinsdag, 23 Mei, is daar omstreeks 20:00 by ‘n huis in Rissikstraat gepeuter. Die Dorpswag het die area gefynkam, maar niks gekry nie. In die vroeë oggendure is daar weer ‘n probleem aangemeld. Teen 04:30 het Juan du Plessis se patrollie drie verdagtes opgemerk wat te voet besig was om uit die dorp te beweeg. By die oop veld by Rissik- en Kortstrate het die patrollie die een voorgekeer en ondervra. Hy kon nie Afrikaans verstaan nie. Twee het weggehardloop en ‘n polisievoertuig, wat in daardie stadium ‘n honderd meter agter die patrollievoertuig was, het die een aangekeer, terwyl die ander een weggehardloop het. Die verdagte by die patrollievoertuig is ook aangekeer.
“Van daar af is dit baie stil in Sektor 3,” sê Juan.
Die reaksietyd van die Dorpswag word oral geloof. Dr. Johan van Rensburg vertel van een voorval in Andersonstraat waar die dame die Dorpswag geskakel het. Sy het die telefoon neergesit en net vyf tree gestap voordat die patrollievoertuig opgedaag het.
Ds. Willem Boshoff sê dat ‘n meisie ‘n onbekende, verdagte man by die venster gewaar het in Rissikstraat in Sektor 2 en dat daar binne ‘n paar minute ses tot sewe voertuie op die toneel was.
Joos Combrink sê dat die patrollies baie goed en baie getrou ry.
“Daar is net nie genoeg mense nie. As daar meer mense is, sal dit die druk op elkeen verlig,” sê Joos.
Dr. Phillip Venter beaam dat daar meer patrolliewagte benodig word en dat voornemende patrolliewagte hulle name by hom kan aanmeld by onderstaande nommer. Hy sê ook dat hulle by die Kommandotrust wil aanklop vir moontlike finansiële hulp met nog radio’s, groenliggies en magneetbande, asook borde by die dorpsingange met die Dorpswagteken en die waarskuwing dat geen misdaad toegelaat sal word nie.
Die Dorpswag het ‘n spaarrekening by ABSA waar finansiële bydraes inbetaal kan word. Die tesourier, Jacolien Fourie, het ‘n kwitansieboek en bydraes kan ook daar inbetaal word.
“Daar is baie mense wat nie kans sien om patrollie te ry nie, maar wat ‘n finansiële bydrae wil maak,” sê ds. Boshoff. Hy bedank ook die onbaatsugtige patrolliewagte.
Die Rekeningnaam is Zoutpansberg Dorpswag en die ABSA spaarrekeningnommer is 916 426 1737. Dr. Venter kan geskakel word by tel. 083 444 7672.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
