ADVERTISEMENT:

 

Die beserings, veroorsaak deur die brutale geweld waarmee die bejaarde Van Rensburg-egpaar verlede Saterdag in die Waterpoort-omgewing aangeval is, is duidelik sigbaar op die gesig van die 75-jarige mnr. Nico van Rensburg. Sy vrou Tossie (72) is ook met ‘n vuurwapen op die mond geslaan.

Was dit rassehaat?

 

News  Date: 09 June 2006

 

Was die jongste plaasaanval in die omgewing van Waterpoort rassisties geïnspireerd?

Die sterk vermoede dat die brutale aanval op die bejaarde Van Rensburg-egpaar op die plaas Klein Diamant verband hou met die onlangse onbeteuelde rassistiese haatspraak teen blankes op Dendron, word geopper in ‘n amptelike nuusvrystelling deur die TLU SA Noord.

Betogers by die hofsaak waarin ‘n jong blanke plaaswerker, mnr. Theunis Steyn, verskyn het in verband met ‘n tref-en-trap ongeluk, het ongesteurd plakkate rondgeswaai waarop alle blankes (Boere) as moordenaars bestempel word. Steyn se verskyning op ‘n borgaansoek het gevolg op ‘n ongeluk waarin ‘n hoërskoolleerder, Tshepiso Moremi, noodlottig beseer is.

Die 75-jarige mnr. Nico van Rensburg en sy eggenote Tossie (72) is verlede Saterdagoggend in hul slaapkamer verras en op barbaarse wyse ernstig aangerand en beroof deur twee swart mans, wat hulle daarna vasgebind op die vloer agtergelaat en met hulle bakkie, .38-rewolwer, kontant en juwele weggejaag het. Die egpaar woon op ‘n gedeelte van die plaas wat behoort aan die onderneming Al3 Boerdery. Die onderneming en sy eienaar word regstreeks geteiken in ‘n opruiende rassistiese vlugskrif wat glo op georganiseerde wyse van huis tot huis aan swart inwoners op Dendron uitgedeel word. In die vlugskrif word inwoners opgeroep tot ‘n verbruikersboikot teen blanke ondernemings op die dorp, waarvan die eienaars, volgens die vlugskrif “were supporting Tshepo Maatloga en Tshepiso Moremi’s killers”.

In ‘n mediavrystelling deur TLU SA Noord sê die voorsitter, mnr. Dries Joubert, die gemeenskap is uiters dankbaar dat Nico en Tossie die aanval oorleef het en wens hulle spoedige beterskap toe met die beserings wat hulle in die aanval opgedoen het. Hy sê dit moet in gedagte gehou word dat die haatspraak wat op Dendron voorgekom het, sulke insidente aanwakker.

Joubert het waardering uitgespreek vir, wat hy genoem het “die ongelooflike samewerking tussen die SAPD, die Plaas Steunkringe en die Soutpansberg Dorpswag”. In ‘n uitgebreide gesamentlike operasie is verskeie paaie afgesper. Die SAPD het die egpaar se gesteelde bakkie met twee insittendes voorgekeer. Benewens verskeie gesteelde goedere het die twee ook ‘n ongelisensieerde 9mm-pistool by hulle gehad.

Luidens ‘n polisieverklaring is twee Zimbabwiese mans by Polokwane in hegtenis geneem. Die twee, Calvin Dube (25) en Leo Moyo (24) is volgens inligting altwee onwettige immigrante en het Maandag in Makhado (Louis Trichardt) voor die hof verskyn op ‘n aanklag van gewapende roof. Die saak is uitgestel tot 15 Junie.

In ‘n onderhoud het die egpaar gesê hulle het omstreeks 03:00 die dag wakker geword met twee gewapende mans wat voor hul bed staan. Die twee het in Engels geld geëis. Hulle het die bejaarde egpaar se eie vuurwapen op hulle gerig en hulle daarna herhaaldelik met die vuurwapen teen die kop en in die gesig geslaan, terwyl hulle die sleutels vir hul bakkie en vir die kluis geëis het. Hulle het mnr. Van Rensburg ook teen die lyf geslaan en geskop. Van sy ribbes is vermoedelik gekraak. Die egpaar se hande en voete is vasgemaak.

Nadat die egpaar daarin geslaag het om hulleself los te woel, het hulle hul dogter, mev. Annette Knoetze, van die plaas Kliprivier, in dieselfde omgewing geskakel en al die nodige hulp is ontbied.

“Almal het so vinnig gereageer. Ons is hulle baie dank verskuldig,” het mnr. Van Rensburg gesê.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines