ADVERTISEMENT:

 

Wie is verantwoordelik as jou hond iemand byt?

 

Wie se sak word geaffekteer as jou brakkie die dag besluit om iemand die tande in te lê?

Plaaslik kom daar op ‘n gereelde grondslag ernstige en minder ernstige voorvalle van hondebyt voor. In een van die meer onlangse gevalle is ‘n bergfietsryer gebyt deur ‘n boerboel in die Hanglip-plantasie. Daar was twee boerboele wat deur hulle eienaars gelos is om sonder leibande agter hul bakkie aan te hardloop. Een het, sonder waarskuwing, die fietsryer bestorm, haar gebyt en toe weggehardloop nadat die fietsryer begin skreeu het.

Die “byt” skade was gelukkig minimaal van aard gewees. Dieselfde kon egter nie gesê word van die doktersrekeninge nie. Buiten vir die verskeie inspuitings (klem-in-die-kaak en hondsdolheid) moes die bytplek skoongemaak word en behandel word met ‘n kursus antibiotika. Die “eienaars” van die honde het later, ten spyte van ‘n aanvanklike erkenning, enige skuld in die saak ontken.  

Uit ‘n regsoogpunt, sê plaaslike prokureur me. Vanessa Grundling, kan die eienaar(s) van ‘n hond siviel of strafregtelike aanspreeklik gehou word. Dit beteken dat die eienaar streng gesproke aanspreeklik is vir enige finansiële onkostes wat die slagoffer moes aangaan. Die eienaar kan ook deur ‘n hof beveel word om die diere te verwyder of, in ernstige gevalle, te laat uitsit.

Grundling het verduidelik dat ‘n slagoffer van ‘n hondebyt kan aanspraak maak op die gemeenregtelike aksie, bekend as die actio de pauperie, vir mediese vergoeding van die hond se eienaar. Hierdie aksie is gebaseer op die eienaar se skuldlose aanspreeklikheid vir sy/haar hond se optrede. “Nalatigheid van die eienaar of kennis van die dier se geaardheid is dus nie ter sprake nie,” sê Grundling.

Vir só ‘n siviele eis om suksesvol te wees, sal die slagoffer moet kan bewys wie die eienaar is, dat die hond teenstrydig met sy normale aard opgetree het (deur iemand te byt), dat die hond ‘n mak huisdier is en dat die byt die slagoffer skade berokken het. Die slagoffer sal ook moet bewys of die eienaar dalk nalatig opgetree het deurdat die eienaar versuim het om redelike voorsorgmaatreëls te tref om enige beserings (of skade aan eiendom) te kon verhoed het.

Vir die eienaar is daar, in terme van die actio de pauperie beginsel, ook ‘n aantal verwere wat geopper kan word. Dit sluit in bydraende nalatigheid van die slagoffer. Die eienaar kan aanvoer dat die slagoffer onwettig in die plek was waar die aanval plaasgevind het en/of dat die dier uitgetart is.  

 ‘n Slagoffer kan ook die polisie vra om die saak te ondersoek.

‘n Klag kan gelê word ingevolge die Wysingswet op Diere Aangeleenthede (Wet 42 van 1993) wat bepaal dat “enige persoon wat deur sy/haar nalatigheid veroorsaak dat ‘n dier iemand anders beseer aan ‘n misdryf skuldig is.”

Indien die eienaar skuldig bevind word, kan die hof ‘n boete of ‘n maksimum van twee jaar gevangenisstraf op lê. Die hof kan verder ‘n ook ‘n bevel maak vir die verwydering en vernietiging van die hond. “Niks keer ‘n slagoffer om gelyktydig siviel en strafregtelike roetes te volg nie,” het Grundling gesê.

Grundling het die publiek aangeraai om bewyse byderhand te hou. Dit sal veral handig te pas kom wanneer ‘n eienaar nie aanspreeklikheid wil aanvaar nie. (Sien die res van haar raad hiernaas).

Wat die fietsryer se saak betref, het Grundling gesê, moet die kostes van ‘n siviele eis opgeweeg word teenoor die skade wat gely is en wat bewys kan word. Daar is ook die opsie om die eis deur die Hof van Klein Eise te laat verhoor, maar die eis sal dan beperk word tot R15 000. “Mens moet met ander woorde mooi gaan dink of die eis die moeite en geld werd is,” het Grundling gesê.

News - Date: 22 July 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: