ADVERTISEMENT:

 

Elbe Harris saam met MikeFoto verskaf.

Dié kat kom weer

 

Dit blyk letterlik ‘n geval te wees van Mike (die kat) kom weer!

Mike, ook bekend as MishMish, het vroeër vanjaar net-net die dood vrygespring, nadat iemand hom in die kop geskiet het. In hierdie stadium is hy weer ‘n baie tevrede huiskat met die res van sy nege lewens wat hom blykbaar gespaar gebly het. Hy was aanvanklik ‘n straatkat, totdat hy deur die TNR (Trap Neuter Return) projek gered is. Hy is daarna deur die Blouberg Dierekliniek in Louis Trichardt aangeneem.

Mike is in Mei vanjaar met ‘n windbuks  in die kop geskiet. Die koeël is net onder sy oortjies deur en het sy brein rakelings gemis. Hy het, onder andere, sy gehoor verloor en permanente skade opgedoen aan sy kakebeen. Daarby is ou Mike nou ook uiters sensitief vir skerp lig, omdat sy oë nog nie herstel het nie en sy irisse moontlik vir altyd onnatuurlik vergroot sal bly.  

Alles in ag genome was Mike se weldoeners verheug die dag toe hy in so ‘n mate herstel het dat hy weer self kon opstaan en eet.

Die Zoutpansberger het Maandag (17de) gaan inloer by Mike se nuwe mensema – Elbe Harris - wat hom aangeneem het. Elbe werk self by die dierekliniek en het sodoende verseker dat Mike in die “Blouberg” familie bly, alhoewel hy nooit weer by die spreekkamer sal kan bly nie.  Haar besluit om Mike in te neem was grootliks omdat sy hom jammer gekry het.

Mike is vir etlike weke verpleeg deur Marinda van der Walt van die TNR-projek. Weens sy beserings moes hy noodgedwonge in ‘n hok gehou word, omdat hy nie meer enige gevaar behoorlik kan hoor of sien aankom nie. “Ek het hom net te jammer gekry dat hy nou alleen is,” het Elbe gesê. “Toe Mike nog hier by ons by die spreekkamer was het hy by almal – die kliënte ook – aandag gekry.”

Mike het gelukkig mooi aangepas by sy nuwe huis. “Jy moet sien hoe vet het hy nou geword,” vertel Elbe.

Elbe is optimisties dat Mike se gehoor terugkom. Noudat Mike die goeie lewe geniet, raak hy so bietjie stout, en die naweek wat verby is het hy uit die huis geglip. Dis eers nadat Elbe hom vir ‘n rukkie gesoek het en hom toe begin roep het dat Mike met ‘n gemiaau uit die boom geantwoord het. “Ek weet nie of dit net toevallig was nie en of hy dalk hier en daar ‘n paar hoë frekwensie geluide kan uitmaak nie ... ek hoop darem regtig dit is sy gehoor wat terugkom,” het Elbe gesê.

Dit lyk regtig of Mike goed aanpas by sy nuwe lewe. Sy kakebeen het nie heeltemal reg aangegroei nie, maar hy kry pilletjies én sagte kos wat hy sonder te veel van ‘n gesukkel kan eet. Klim en klouter kry hy reg en Elbe se Jack Russels word op hulle tone gehou, deurdat Mike hulle gereeld kap om te herinner wie die nuwe baas in die huis is…

News - Date: 23 July 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Mike leef nou die goeie lewe saam met sy nuwe mensma Elbe Harris. Foto verskaf.

Danksy Elbe Harris het Mike die kat nou 'n nuwe tuiste en gaan dit voor die wind met hom. Foto verskaf.

Danksy Elbe Harris het Mike die kat nou 'n nuwe tuiste en gaan dit voor die wind met hom. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: