

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 June 2006
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van TLU SA Noord, het boere in die Soutpansberggebied dringend gewaarsku dat daar hondsdolheid uitgebreek het in die Sibasagebied en vinnig oos, wes en suid versprei het. Boere in veral die Sibasa-, Levubu- en Louis Trichardtgebiede moet uiters oplettend en versigtig wees.
Volgens Dr Loock, Staatsveearts op Makhado (Louis Trichardt) kan die siekte van dier na mens oorgedra word. Hy het dit beklemtoon dat hondsdolheid ’n uiters gevaarlike siekte is en dat diere gereeld ingeënt moet word. Honde, maar ook katte, meerkatte, jakkalse en ander wilde diere, kan mense infekteer.
Die siekte word oorgedra wanneer ‘n persoon deur so ‘n siek dier gebyt word, omdat die virus deur die speeksel van die siek dier versprei word. Die virus kan ook deur snye, die mond of oë die mens infekteer.
Die volgende simptome is van uiterste belang:
Die eerste teken is hoofpyn, angs, koors, braking en uiterste vrees vir water. Daarna volg verlamming, koma en die dood.
Dit neem gewoonlik twee tot tien weke vir mense en diere om simptome te toon na infeksie. Wanneer mens of dier die tekens begin toon, is geen behandeling moontlik nie en die persoon of dier sal sterf. Dit is dus belangrik om dadelik na ‘n byt van ‘n vermoedelik hondsdol dier met behandeling te begin, voordat die simptome begin wys. Was die wonde onmiddellik deeglik, verkieslik met ’n ontsmettingsmiddel. Kry so gou moontlik mediese behandeling en onthou dat die behandeling uit ’n reeks inspuitings bestaan en ‘n persoon moet die volledige reeks ontvang.

ADVERTISEMENT:
