

ADVERTISEMENT:

Tannie Bets Beyers is nog op en wakker op 102-jarige ouderdom.
News Date: 28 July 2017
Skuins oorkant die dorpsbiblioteek, langs die bekende Haantjiekerk op Louis Trichardt, is die Ferdie Beyerssaal. Hier is al menige basaar en konsert aangebied en van die land se bekendste kunstenaars het al die verhoog bestyg. Min inwoners onthou egter nog die persoon na wie die saal vernoem is.
‘n Soektog in die plaaslike argiewe lewer nie baie op nie. In die honderdjarige gedenkblad van die NG Kerk Moedergemeente word daar net vlugtig na Beyers verwys. Die samesteller van die blad, dr. Gerdrie van der Merwe, skryf dat die gemeente in die vroeë 1970s hard probeer het om ‘n kerksaal op te rig op die terrein langs die geloftekerk. “Weens ‘n tekort aan geld kom die saak nie op dreef nie, maar ‘n onverwagse erflating van R50 000 deur mnr. Ferdie Beyers vir die doel, help om die droom waar te maak. Die kerksaal kos meer as R300 000 en word deur ‘n spanpoging onder leiding van dr. A Dekker gou betaal.”
Die genealogie webtuistes lewer een of twee interessanthede op, maar vertel ook nie veel oor Ferdie Beyers self nie. Hy is gebore op 24 Februarie 1903 en het gesterf op 3 Februarie 1975. ‘n Foto van sy grafsteen wys dat dit in George is, langs die grafsteen van sy vader en moeder. Sy pa was Jan Andries Beyers (1859 – 1924) en sy ma Martha Magdalena van der Merwe (1862 – 1927). Die grafsteen vir sy vader is opgerig deur die N.G. Kerk se gemeente in George en dit lees: “In leven predikant te: Fransche Hoek, Willowmore, Lichtenburg en George.”
Verdere navrae by van Louis Trichardt se ouer inwoners lewer egter meer interessanthede op. André en Eleanor Botha is tans in Pretoria, maar het vir bykans 60 jaar op Louis Trichardt gewoon. Hulle onthou nog die Beyers-egpaar, Ferdie en Bets. Die verrassende nuus wat hulle het, is dat tannie Bets nog lewe.
In Maart vanjaar het ‘n berig in die Rekord Oos-koerant in Pretoria verskyn van ‘n plaaslike inwoner wat haar 102de verjaardag gevier het. Dit was tannie Betsie Beyers, eggenoot van wyle Ferdinand Beyers. Sy is die oudste inwoner van die Kronendal aftree-oord in Arcadia. Vir iemand wat al meer as ‘n honderd winters agter die rug het, is sy nog vol lewenslus en die uitsonderlike blou oë het nog baie vonkel. Sy sukkel wel met haar gehoor, maar benewens dit is sy relatief gesond.
Die berig vertel dat tannie Bets ‘n kranige pianis was en onder meer sanglesse vir kinders aangebied het. Sy het haar as onderwyseres bekwaam by die Universiteit van die Vrystaat en haar eerste pos was by die Hoërskool Boshof. Sy het egter vinnig besef sy is nie uitgeknip vir hoërskool onderwys nie en het begin klasgee vir kleuters.
“Plaaslik was sy bekend as die onderwyseres vir die kleintjies,” vertel André en Eleanor. Hulle het egter moeite gedoen en twee weke gelede vir tannie Bets in die aftreeoord gaan verras met ‘n besoek. “Mens kan nie glo dat sy in Februarie 102 jaar geword het nie. Sy is vrolik, spraaksaam en helder van verstand en sy sien nog baie goed, maar sy is ongelukkig vreeslik doof, ten spyte van die gehoorapparaat,” vertel Eleanor. Hulle pogings om bietjie meer van haar oorlede man uit te vind, was egter minder suksesvol. Tannie Betsie het baie van haar oorlede man vertel, maar die onvermoë om te hoor het dit moeilik gemaak om vrae te vra.
André onthou egter dat Ferdie Beyers destyds vir Frank Oldrieve gewerk het wat onder meer Zoutpansberg Motors en Northern Motors besit het. Hy was ‘n lid van die plaaslike Rotariërs en ook die Vrymesselaars. André onthou ook dat dit juis die Vrymesselaar verbintenis was wat na Ferdie Beyers se dood vir ongelukkigheid in die gemeente gesorg het. Van die kerkraadslede was erg wantrouig oor die doen en late van die Vrymesselaars en wou nie die skenking net so aanvaar nie. Hulle was egter in die minderheid en die saal is gebou en vernoem na die gestorwe gemeentelid.
Twee inwoners van Louis Trichardt wat die Beyers-egpaar baie goed onthou, is Tjol en Annekie Jandrell. Tjol vertel dat sy pa en oom Ferdie saam in die Tweede Wêreldoorlog in Algiers in Noord-Afrika geveg het. Ná die oorlog het oom Ferdie en tannie Bets hulle op Louis Trichardt gevestig.
“Oom Ferdie was die bestuurder by Zoutpansberg Motors,” vertel hy. Hy onthou oom Ferdie as ‘n sakeman wat baie respek afgedwing het en aktief betrokke was by gemeenskapsprojekte. Die Beyers-egpaar het ook ‘n plaas aangekoop by Bandelierkop waar hy deeltyds geboer het. Met sy aftrede in die vroeë 70s het hy voltyds by Bandelierkop geboer.
“Tannie Bets kon feitlik enige musiekinstrument bespeel,” onthou Annekie. Sy vertel die staaltjie van hoe tannie Bets musiekklasse vir die dogters van oom Piet de Vaal aangebied het. Oom Piet wou egter nie hê dat hulle klavier moet speel nie. Oom Piet het toe twee identiese, miniatuur (maar werklike) trekklaviertjies êrens in die hande gekry en sy twee oudste dogters, Linette en Milda, gestuur om by tannie Bets te leer speel.
Een van die dogters, Milda, het ook die koerantberig vroeër vanjaar gesien en vir tannie Bets gaan besoek. Milda was in Graad 1 in “Juffrou Beyers” se klas. Sy vertel dat tannie Bets haar en haar suster, Linette, nog goed onthou. Die Beyerse was hulle bure, en het op die hoek van Delarey- en President Steynstraat gewoon. “Sy het my my grootste geskenk gegee,” sê Milda. “Sy het my geleer lees en skryf.”
Volgens Milda was tannie Bets baie kunstig en vindingryk in haar onderrigmetodes. Aan die einde van Graad 1 het Milda ‘n boekprysie van haar juffrou ontvang, Die nuuskierige veldmuisie. Sy het steeds dié boekie asook die trekklaviertjie en het dit saamgeneem om vir tannie Bets te wys.
Oom Ferdie en tannie Bets was lief vir dans en het graag gesing. In die koerantonderhoud wat met tannie Bets gevoer is, verwys sy ook na hul liefde vir musiek. “Ons was mal oor dans. Ons was altyd eerste op die dansvloer,” sê sy.
Die egpaar het geen kinders gehad nie. Vandag is hul nalatenskap deels in ‘n saal waar daar baie musiek gemaak word, maar tot dusver nie baie gedans word nie.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
