ADVERTISEMENT:

 

Van Pulse se dansers in aksie tydens die eerste ladies night van 2015. Foto verskaf.

Musina Sexpo

 

News  Date: 29 July 2017

 

Moeg vir die gewone damestee of -ontbyt met die fynproewertee en -koekies? Musina nooi die streek se dames uit na ‘n  vroue-aand vir dié wat ’n bietjie stout van gees is.   

Einde September sal dié grensdorp gasheer wees vir een van die grootste – so word dit bemark, in elk geval – Ladies Night Sexpo Show. Dit is nie die eerste keer wat ’n dekadente ladies night in Musina aangebied word nie, maar dit is wel die eerste keer wat dié funksie as ‘n Sexpo aangebied word.

Volgens die organiseerder, me. Rona-Lee Johannsen, het die byeenkoms aanvanklik begin as ’n plaaslike fondsinsamelingsprojek. Dié eerste aand - in 2015 - was egter bloot net ‘n damesaand met ’n groep sexy dansers van Pulse wat opgetree het.

Rona-Lee het egter besluit om weer die manne van Pulse te kry en dit te kombineer met erotiese uitstallers. Daar sal, onder andere, ‘n uitstalling wees deur Pure Romance, wat spesialiseer in bad-, skoonheids- en slaapkamertoebehore vir vrouens. Hierdie jaar sal die funksie egter net aangebied word vir vroue om te gaan en te geniet.

“Ek het ná ons Ladies Night in 2015 gesien hoe die vrouens lekker saam kuier en lag, en dit het vir my baie beteken om te sien hoe almal ’n bietjie ontspan vir een aand. Soms kry vrouens nie baie kans om iets saam ’n vriendin te doen tussen al die werk, kinders grootmaak en huis skoonmaak nie,” het Rona-Lee verduidelik.

Daarbenewens, sê Rona-Lee, is daar in Louis Trichardt en Musina nie altyd te veel om te doen nie. “Ek het ander dag op die Facebook-blad van Louis Trichardt Funkmail gelees hoe gefrustreerd mense is dat daar niks is om te doen plaaslik nie,” sê Rona-Lee. Daar was, vertel Rona-Lee, selfs mense wat voorgestel het dat Louis Trichardt se inwoners ’n geveg begin in die Wimpy, synde die dorp nie ‘n Spur het nie.

“Dis die lekker ding van ons ladies night; ons almal geniet net die aand. Die dansers is eintlik baie professioneel en hanteer die vrouens met respek ... dit is eintlik baie smaakvol,” het Rona-Lee gesê.

Vir die tannies wat nog nie weet nie, Pulse is een van Afrika se grootste en mees eksklusiewe eksotiese dansgroepe. Hulle spiertiere het al oor die lengte en breedte van Suid-Afrika opgetree en het ook heelwat internasionale uitvoerings onder die belt (verskoon die woordspeling). Van hulle dansroetines sluit onder andere in die stoute polisieman, brandweerman, matroos en dokter.

Die hoeveelheid dansers wat in aksie gesien gaan word in Musina – op 29 September – hang egter af van hoeveel vrouens kaartjies koop vir die geleentheid.

Tot dusver is dit Musina se inwoners wat die grootste ondersteuners van die vroue-aand is. Uit Louis Trichardt is daar besprekings ontvang vir twee tafels. Vir meer inligting kan Rona-Lee gekontak word by 0798106088.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines