ADVERTISEMENT:

 

Prinses die Yorkie is ná ses maande nog steeds vermis. Foto verskaf.

Hoekom so baie vermiste diere?

 

News  Date: 29 July 2017

 

Is daar sindikate wat troeteldiere steel, of is dit net bietjie agterlosigheid van eienaars wat veroorsaak dat die diere op straat beland en wegraak?

Die antwoord is waarskynlik ‘n kombinasie van ‘n hele aantal faktore. Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) reken daar is nie rede vir grootskaalse paniek oor vermiste troeteldiere nie.

Volgens ‘n DBV-vrywilliger, mev. Lesley Gaigher, sien hulle gereeld ’n toename in die aantal diere wat as vermis aangemeld word gedurende skoolvakansies. Dit is gewoonlik die diere wat agterbly terwyl hul eienaars met vakansie is wat wegraak, omdat daar nie iemand is wat na hulle kyk nie. Diere raak alleen wanneer hulle mense nie by die huis is nie en probeer uitbreek.

Lesley sê dat dit baie onwaarskynlik is dat daar diewe is wat spesifiek daarop fokus om honde en katte te steel by huise. “Desember is eintlik ons besigste tyd weens al die klappers wat afgevuur word,” sê sy.

Wat egter ’n rede tot kommer is, verduidelik Lesley, is dat troeteldiereienaars nie altyd besef dat munisipale ordonnansies bepaal dat die DBV vermiste diere net vir vyf dae mag hou nie. Daarna kan die dier in aanmerking kom om aangeneem te word. “Dit het al per geleentheid gebeur dat iemand hulle vermiste hond of kat kom soek het by die DBV en dan is die dier klaar aangeneem,” sê Lesley.

In sulke gevalle is die eienaars baie boos, maar, sê Lesley, daar moet in gedagte gehou word dat dit die DBV geld kos om na die diere om te sien. ‘n Troeteldier is afhanklik van sy eienaar en dit is derhalwe die eienaar se plig om te verseker dat sy of haar dier in ’n veilige omgewing woon.

Lesley verduidelik dat daar ook gevalle is waar die eienaars eers ’n week of wat nadat die dier weggeraak het, begin soek. “En dit laat ’n mens wonder hoe erg die mense dan oor hul diere was om mee te begin,” sê Lesley.

Daar is wel die enkele gevalle soos dié van Prinses die Yorkie van Gerrie van Zyl wat in Februarie vanjaar al weggeraak het in die omgewing van Schimpersingel. Louis Trichardt se lamppale was oortrek met Prinses se gesiggie en die belofte van ‘n R5 000 beloning. Helaas, ses maande later is Prinses nog steeds vermis.

Gerrie het vandeesweek aan die Zoutpansberger bevestig dat hy oortuig is daarvan dat Prinses gesteel is. “Maar ons hoop en bid nog steeds elke dag dat ons haar sal terugkry,” het Gerrie gesê. Hulle kry nog steeds leidrade wat hulle opvolg, party van so ver as Pretoria af.

Om die hartseer en trauma van ’n vermiste troeteldier te vermy, raai die DBV inwoners aan om iemand – soos die bure - te kry wat na hulle diere kan kyk as hulle weggaan met vakansie. Sodoende is daar nie net altyd iemand wat ’n wakende ogie oor jou diere hou nie, maar is daar sommer iemand wat kyk dat diewe nie jou huis leeg dra nie. ’n Eienaar kan ook vra dat die oppassers elke dag vir so ’n rukkie kuier by die diere, sodat hulle nie alleen raak nie.

Dit gebeur ook nog te gereeld dat daar eienaars is wat nie hulle erwe behoorlik toespan nie en hulle honde toelaat om buite rond te loop. Elke eienaar het ’n verantwoordelikheid om te sorg dat sy of haar diere nie in die strate rondloop nie.

Alternatiewelik, sê Lesley, kan inwoners gebruik maak van die DBV se losiesdiens. “Ons is ingerig vir honde en katte en diere kan met ’n geruste hart by ons gelos word terwyl hul eienaars met vakansie is,” sê Lesley.

Bygesê is dit ook altyd raadsaam om foto’s byderhand te hê. Inwoners kan ook met hul plaaslike veearts skakel om hul troeteldiere toe te rus met ’n mikroskyfie wat die opsporingsproses baie sal vergemaklik.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines