ADVERTISEMENT:

 

DA gee "groenlig" vir Groen Gordel ontwikkeling

 

News  Date: 16 June 2006

 

Die DA het in ‘n opsienbarende mediaverklaring sy volle steun toegesê aan die hoogs omstrede kommersiële ontwikkelingsplanne in die sensitiefste gedeelte van die Groen Gordelgebied in Makhado (Louis Trichardt).

Die verklaring volg kort ná verlede Vrydag se vergadering, waarop besorgde lede van die gemeenskap se besware teen die hersonering van die betrokke gedeelte van die Groen Gordel bespreek kon word.

Te midde van ernstige besware deur inwoners en omgewingsbewuste kenners teen die beoogde ontwikkeling, sê die DA se Lid van die Provinsiale Wetgewer, mnr. Timothy Maanda, dié soort ekonomiese groei en ontwikkeling sal die gemeenskap se welsyn verseker, armoede besweer en vir die dorp ‘n positiewe beeld van uitmuntendheid bevorder.

Oor die vernietigende gevolge wat die ontwikkeling vir die natuurlewe in die gebied kan meebring, sê mnr. Maanda die DA is bekommerd oor die wildlewe op die perseel, maar sê dié probleem kan opgelos word as die ontwikkelaar ‘n “palissade heining oprig om die wild te beskerm.”

Die mediaverklaring wat deur mnr. Maanda onderteken is, sê die DA se Vhembe-kiesafdeling verwelkom die beoogde ontwikkeling in Louis Trichardt Uitbreiding 9, wes van die N1 en noord van Stubbsstraat.

“Makhado het ‘n behoefte aan ekonomiese ontwikkelaars, hoewel die werkloosheidsyfer baie hoog is. Om ekonomies lewensvatbaar te word, moet ‘n dorp beleggers kan lok. Makhado het groot ontwikkelingspotensiaal. Die omvang van die beoogde belegging (in Uitbreiding 9) kan aanleiding wees tot belangstelling deur ander beleggers.

“Die DA moedig ekonomiese groei en ontwikkeling aan om Makhado ekonomies mededingend te maak. Die ontsluiting van Makhado se unieke ontwikkelingsmoontlikhede kan uitkring en ‘n verskeidenheid voordele hê, deurdat dit werksgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling kan skep, die ekonomie kan stimuleer en oor die algemeen ‘n beleggersvriendelike omgewing daarstel. Die beoogde ontwikkeling in Louis Trichardt Uitbreiding 9 is ‘n stap in die regte rigting,” lui die DA verklaring.

In die verklaring word die beoogde “Motor City” verwelkom en mnr. Maanda sê die strategiese ligging van die beoogde hotel en konferensiesentrum sal die toerisme potensiaal van die dorp bevorder. Hy sê die ontwikkeling word beoog op grond wat na bewering deur onwettige immigrante geoormerk is vir informele behuising. Die ontwikkeling sal die omliggende inwoners se eiendomswaarde laat toeneem en hul veiligheid bevorder, omdat dit die teenwoordigheid van onwettige immigrante sal uitskakel en werksgeleenthede sal skep.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines