ADVERTISEMENT:

 

Selfmoord in polisieselle

 

News  Date: 23 June 2006

 

Die Onafhanklike Klagte Direktoraat (OKD) het die week meer lig gewerp op die geheimsinnige omstandighede wat gelei het tot die skietdood van ‘n Zimbabwiese man in polisieaanhouding by die SAPD op Makhado (Louis Trichardt).

Dit het aan die lig gekom dat die man, die 36-jarige mnr. Mavesere Tavengwa, inderdaad homself met ‘n .22-pistool geskiet het, ten aanskoue van mede-aangehoudenes in die polisieselle. Die skietvoorval het op 2 Junie plaasgevind. Hoe Tavengwa daarin kon slaag om sonder die polisie se wete ‘n vuurwapen in die selle in te smokkel, bly ‘n duistere vraag te wees. Volgens inligting het hy die pistool in sy onderbroek versteek.

Polisiebeamptes wat die betrokke dag aan diens was, het omstreeks 18:50 ‘n skoot gehoor en hulle na die polisieselle gehaas. Daar aangekom, het hulle Tavengwa dood aangetref op die vloer. In ‘n selfmoordbrief word die haglike omstandighede in die polisieselle as motief vir sy dood aangegee. Hy vra ook na bewering in dieselfde brief vir sy ma om verskoning omdat hy homself geskiet het.

Die OKD het dadelik die ondersoek by die polisie oorgeneem. Dié direktoraat is ‘n statutêre liggaam wat deur die regering aangestel is om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te monitor en klagtes teen die polisie te ondersoek. Hulle het die ondersoek oorgeneem, na bewerings van nalatigheid aan die kant van die SAPD.

Volgens mnr. Innocent Khuba, provinsiale hoof van die OKD, is hul ondersoek nog ver van afgehandel. Hy sê dat, sou daar bevind word dat polisiebeamptes nalatig opgetree het, die bevindings aan die polisie se topbestuur deurgegee sal word. Die rede hiervoor, sê mnr. Khuba, is die feit dat hulle nie gemagtig is om verder op te tree nie en dat verdere optrede slegs deur die polisie self kan geskied. Hy het egter wel gesê dat die OKD by magte is om aanbevelings te maak ten opsigte van watter dissiplinêre stappe geneem kan word teen polisiebeamptes wat hulself skuldig maak aan nalatigheid.

Volgens inligting sal die OKD se ondersoek binne die volgende week afgehandel word, waarna die dossier weer aan die polisie teruggegee sal word. Khuba sê dat hulle slegs die klagte van nalatigheid teen die polisie ondersoek en dat die res van die ondersoek deur die polisie self gehanteer moet word. Die ondersoek sal egter steeds deurlopend deur die OKD gemonitor word, sê Khuba.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines