

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 June 2006
‘n Sentrum wat padveiligheid en die algemene toestand van paaie in die noorde van Limpopo beduidend kan verbeter, gaan eersdaags langs die N1 tolpad opgerig word. Dit sal ook die wesentlike gevaar van weghol vragmotors by Makhado (Louis Trichardt) verder kan verminder.
Dié sentrum maak deel uit van die beoogde opgradering van die noordelikste gedeelte van die N1 tolpad, wat eersdaags begin. Dit sluit ook aan by die huidige omvattende beveiligingskonstruksie wat in die Soutpansberg-bergpas aan die gang is.
Die padwaardigheid van alle busse, taxi’s en vragvoertuie sal op ‘n deurlopende grondslag deeglik nagegaan word by die beoogde Verkeer Beheer Sentrum (VBS) wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk (SANPAB) tussen Musina en Beitbrug beplan.
Private sedanmotors sal nie deur die sentrum geraak word nie. Die eenmalige voorafheffing van tolgeld vir swaarvoertuie onderweg na Gauteng word ook by die sentrum in die vooruitsig gestel. Dit sal na verwagting ‘n deurslaggewende uitwerking kan hê om onnodige swaarvoertuig verkeer van sekondêre paaie in die noorde af te hou.
Die Beitbrug VBS is ‘n gesamentlike onderneming deur SANPAB en die Oorgrens Padvervoeragentskap. Die provinsiale Verkeersowerheid sal betrokke raak sodra die sentrum in gebruik is om die nodige wetstoepassing te doen.
Die VBS word beoog op ‘n perseel oos van die N1 en onmiddellik suid van die Beitbrug doeanepos. Dit sal bestaan uit toepaslike kantoorruimte, ablusiegeriewe vir personeel en besoekers, ‘n hofsaal, ‘n weegbrug, nood kragopwekkers en ’n parkeerarea.
Die sentrum sal toegerus word met akkurate weegtoerusting om moontlike oorbelading van vragmotors op te spoor en sal volledige padwaardigheidstoetse op alle voertuie kan uitvoer, oorgrensbeheer toepas en padheffings insamel.
‘n Siftingslaan en draaisirkel sal aan die westekant van die N1 aangebring word, sodat alle voertuie op pad na die grenspos ook eers deur die beheersentrum gekanaliseer sal word. Die siftingslaan sal toegerus word met ‘n klein kantoor vir die verkeersbeampte in beheer en sensors om bewegende voertuie te weeg.
Besonderhede van die beoogde Beitbrug VBS is verlede Vrydag aan die publiek verstrek tydens ‘n spesiale opedag wat by die munisipale kantore op Musina aangebied is. Die byeenkoms het ook ‘n geleentheid gebied aan alle betrokkenes om insette te lewer in verband met die omgewingsimpakstudie wat op die betrokke perseel uitgevoer moet word voordat konstruksie daar kan begin.
SANPAB het die onderneming Enviro-Namic aangestel as onafhanklike konsultant om die nodige omgewingstudies namens hulle te onderneem.
Enviro-Namic sal ‘n omvattende ondersoek instel na alle omgewingsfaktore wat met die beoogde projek verband hou en ‘n omgewingsimpakverslag saamstel, waarin die volledige biofisiese en sosiale impak aangedui sal word.
Dr. Jenine Bothma van Enviro-Namic het alle lede van die publiek uitgenooi om enige navrae of besware in verband met die beoogde verkeerbeheersentrum aan haar te rig by Posbus 11788, Silverlakes, 0054, tel. 082 571 6920 of by faks 088 012 809 1701. Haar e-pos adres is [email protected]
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
