ADVERTISEMENT:

 

Die bekende Venter-egpaar, oom Johan en tannie Virgie, vier op 1 Julie hulle sestigste huweliksherdenking.

“Verdraagsaamheid en gee, gee, gee!”

 

News  Date: 23 June 2006

 

Sestig jaar saam en hulle glimlag steeds van oor tot oor.

Oom Johan en tannie Virgie Venter glimlag oor ‘n driedubbele viering. Een van die dae is hulle sestig jaar getroud, tannie Virgie vier haar tagtigste verjaarsdag en oom Johan sy 81ste.

“Sy sê vir my oom,” skerts oom Johan.

Watter geheim het hulle om sedert 1 Julie 1946 steeds gelukkig getroud te wees?

“Verdraagsaamheid en gee, gee, gee!” sê tannie Virgie.

“Die genade van Bo. Jy pas deur die jare aan. Ons het die gewone op en af gehad, maar ons sê dankie vir ‘n lang en gelukkige huwelik,” sê oom Johan.

Die twee het mekaar ‘n jaar voor hul troue een naweek op Tshipise ontmoet. Virgie het in ‘n winkel in Louis Trichardt gewerk.

“Ek het haar daar gaan soek,” vertel oom Johan. Die gevoel was van meet af aan wedersyds.

“Toe hy daar inkom, het ek by myself gedink: jy’s myne!” sê tannie Virgie. Hulle wittebrood het hulle in die Kruger Wildtuin deurgebring.

Oom Johan was ‘n bekende sakeman van die dorp wat etlike sake-ondernemings bedryf het, waaronder ‘n hardewarewinkel, sport- en glaswinkel. Hy het ook op al wat ‘n komitee is gedien, van die Sakekamer, Rotariërs tot die Soutpansberg Skoukomitee en dié van die rugbyklub. Tannie Virgie is deel van die Evas Bybelstudie en het veral bekendheid verwerf vir haar gebak, naaldwerk, pagtige blommerangskikkings en tuinbouvaardighede. Daarvan getuig die tuin van hul huis in Forestryweg, waar hulle al die afgelope 56 jaar woon.

Die Venter-gesin is natuurmense en was baie lief daarvoor om binnelands en buitelands te reis. Oom Johan was ook vir 25 jaar Ereveldwagter vir die Nasionale Parkeraad. Tannie Virgie sê dat die Soutpansberg se omgewing steeds die mooiste in die land is, al het George se omgewing hulle amper weggelok tydens die droogte.

Tannie Virgie word op 27 Junie 80 en oom Johan 81 op 11 Julie en 1 Julie is hul huweliksherdenking. Die egpaar gaan egter terugsit tydens hul verjaarsdag- en Diamantbruilofvieringe. Hul kinders reël alles as ‘n verrassing vir hulle. Die Venters het twee kinders, Johan, wat ‘n hardeware-onderneming bedryf op Acornhoek en Yvonne (nou Meiring), wat verbonde is aan die Departement van Gesondheid in New Castle. Verder spog hulle met vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Oom Johan en tannie Virgie bedank graag hulle kinders wat deur hulle lewe so baie vir hulle beteken het.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines