

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 June 2006
Daar bestaan tans geen wetgewing wat die gebruik van groen ligte reguleer of verbied nie. Die wetgewing wat die gebruik van groen ligte aan Burgerlike Beskermingsoptrede toegeken het (Wet 67 van 1977) is herroep.
Dié inligting is vandeesweek deur die TLU SA Noord bekendgemaak in ‘n nuusvrystelling na aanleiding van gerugte dat die gebruik van groen ligte deur die plaaswag, steunkringe en Soutpansberg Dorpswag onwettig sou wees.
Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, stel dit in die verklaring duidelik dat lede van die TLU SA Noord wetsgehoorsame burgers van Suid-Afrika is, wat die voortou geneem het met die opleiding en implementering van die steunkring-, plaaswag- en dorpswagstelsels om misdaad, wat buite beheer is, te beperk. Dit is lede van die boerdery- en dorpsgemeenskap wat, sonder vergoeding, die belangrike taak verrig en wat graag met die SAPD wil saamwerk om misdaad te voorkom. Die hoofdoel van die patrollies wat hulle onderneem, is die voorkoming van misdaad en die lede tree nie buite die wet op nie en neem ook nie die werk van die reserviste of SAPD oor nie.
“Al die owerhede, soos die plaaslike en provinsiale SAPD, munisipaliteite en howe in die betrokke gebiede, sal in kennis gestel word dat die steunkringe, plaaswagte en dorpswag patrollies die groen ligte gebruik in misdaadvoorkomingsaksies ter ondersteuning van en in samewerking met die aksies deur die SAPD. Dié gebruik kan gevolglik op geen wyse as onwettig bestempel word nie.”
Hy het die owerhede weereens uitgenooi om saam met die betrokke groepe te werk om sodoende misdaad te bekamp. Hy het ook lede van die plaaswag, steunkringe en dorpswag bedank vir hul onbaatsugtige optrede om sonder vergoeding, tot laatnag misdaadvoorkoming te doen.
“Dit is wat ons gemeenskap saambind en opbou en bewys weereens die belangrikheid van samewerking en betrokkenheid. Lede tree te alle tye met trots en met absolute integriteit op. Niemand, behalwe misdadigers, word bedreig of behoort bedreig te voel nie,” het mnr. Joubert gesê.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
