

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 June 2006
Die Soutpansberg Dorpswag het nog radio’s ontvang om hulle werk te vergemaklik.
“Ons het 15 draagbare radio’s en twee basisradio’s by die Kommandotrust gekry. Die radio’s is hoofsaaklik uitgedeel aan Sektore 1 en 2. Sektor 3 het hulself reeds toegerus met radio’s,” het dr. Philip Venter Dinsdag gesê.
Die Soutpansberg Dorpswag is in die lewe geroep na ‘n massavergadering op 20 April toe besorgde inwoners hulle voet neergesit het teen die onaanvaarbare geweldsmisdaad in die dorp.
Die ontvangs van meer tweerigtingradio’s is ‘n belangrike stap vorentoe, want “ons grootste wapen is kommunikasie en sigbaarheid,” sê dr. Venter, wat as sameroeper van die dorpswag optree.
Hennie Coetzee van Sektor 2 se B en C-blokke het verlede week ‘n radio ontvang. Hy sê dat die eerste skof patrolliewagte die radio en die verslagboek afhaal en die laaste skof dit weer terugbesorg.
“Die radio’s verskaf gemoedsrus. Met een kanaal kan hulle direk die beheerkamer van die polisie bereik. Die tweede kanaal is die dorpswagkanaal. As jy ‘n probleem het en sê waarvandaan jy skakel, kan ander jou dadelik te hulp snel,” sê Coetzee.
Jean du Plessis van Sektor 3 sê dat baie van Sektor 3 se patrolliewagte radio’s in hul private hoedanigheid aangekoop het. Dit is een van die redes waarom Sektor 3 vinnig op dreef gekom het met die ry van patrollies.
Dr. Venter moedig ook mense wat nie patrollie ry nie, aan om vir hul ‘n radio aan te skaf. Jean stem saam.
“Ek het twee radio’s. Ek los een by my vrou en met die ander een gaan ry ek patrollie. Dit het die voordeel dat sy ons kan roep en dat sy ook kan hoor wat ons doen.” Hy sê hoe meer mense radio’s aanskaf, hoe meer mense bly in verbinding met mekaar en kan mekaar in die toekoms help in nood.
‘n Radio kan ook tuis in ‘n noodsituasie gebruik word en kos tussen R1200 en R1700, sê Hennie.
“Onthou net, dis ‘n noodkanaal en nie ‘n geselskanaal nie, maar ons ondervind darem geen probleme in daardie verband nie.”
“Daar is mense wat regtig baie getrou patrollie ry,” sê dr. Venter. Die kommunikasie en sigbaarheid van die patrolliewagte werp vrugte af. Dr. Venter sê dat hy Sondagaand negeuur gaan ry het en dat daar baie min beweging in die dorp te bespeur was.
“Daar was nie dronk mense nie en die dames van die nag loop ook nie meer so baie rond nie,” sê dr. Venter.
Dit is ook baie stiller in Sektor 3.
“Daar is tans twee rondlopers naby die spoorlyn wat van drie tot vier uur in die oggend aktief is, maar ook die sektorpolisiëringsforum, met wie ons goeie samewerking het, is dit eens dat die Dorpswag ‘n groot impak maak,” sê Jean.
Meer patrolliewagte is egter welkom en voornemende lede kan vir dr. Venter skakel by 083 444 7672. Finansiële bydraes kan gedeponeer word in ABSA spaarrekening nommer 916 426 1737 met die rekeningnaam Zoutpansberg Dorpswag.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
