

ADVERTISEMENT:

Wyle mnr. Ronnie Sutherland (72). Foto verskaf.
News Date: 24 August 2017
Die Soutpansberg het die afgelope week nog een van sy bekende plaaslike sakemanne, mnr. Ronnie Sutherland, aan die dood afgestaan.
Sutherland is verlede Vrydag in die ouderdom van 72 jaar in Pretoria oorlede waar hy behandeling vir ‘n aggressiewe kanker ontvang het. Volgens Sutherland se eggenote, Amelia, het ‘n spinnekop sowat twee maande gelede vir Sutherland gebyt. “Vandaar het sy gesondheid net agteruit begin gaan,” het Amelia gesê.
Sutherland het na ‘n tydjie ook begin naar voel en die familie het gedink hy het dalk voedselvergiftiging opgedoen. Dit, sê Amelia, het Sutherland genoop om dokter toe te gaan. Verdere toetse is gedoen met die skoknuus wat vir die familie gewag het dat Sutherland ‘n baie aggressiewe kanker het wat ondermeer sy maag, galblaas en lewer aangetas het.
Sutherland is ‘n boorling van die Soutpansberg en direkte afstammeling van die legendariese João Albasini. Hy het in lewe diep spore getrap in die plaaslike sakewêreld en was veral baie bekend onder die swart gemeenskappe.
“Hy het die laaste paar maande begin afskaal, maar nooit regtig afgetree nie. Hy het hom besig gehou op sy plaas Doornspruit met die koop en verkoop van goedere, asook die restourasie van sy ou voertuie,” het Amelia gesê.
Sutherland word oorleef deur sy eggenote Amelia, en kinders Cémoné, Raymond, Retief en Corné. 'n Roudiens vir hom vind Vrydag, 25 Augustus, om 13:00 vanuit die AGS-gemeente (70 Munnikstraat) in Louis Trichardt plaas. Die besigtiging vind plaas vanaf 10:30 tot 11:30 Martins Begrafnisdienste.
“Ons wil graag ‘n spesiale woord van dank rig aan al ons vriende en familie in Pretoria vir al hulle hulp en bystand,” het die familie gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
