

ADVERTISEMENT:

Die brand by Shefeera Timbers het ontstaan toe die wind die vlamme opgeskep het van die veld wat daar naby gebrand het en in die hope saagsels gewaai het.
News Date: 25 August 2017
Die Makhado Brandweerstasie het weereens ‘n beroep op inwoners gedoen om nie oop vure te maak nie.
Vanaf Augustus tot Oktober heers daar landswyd ‘n verbod op enige oop vure, omdat die risiko vir wegholbrande uiters hoog is. Dié hernude pleidooi van die stasie volg nadat daar vyf veldbrande en een struktuurbrand verlede week aangemeld is in en rondom Louis Trichardt.
Drie van die veldbrande het in die dorp ontstaan in Vorsterstraat, agter Ridgeway College in Leeustraat en in die veld agter Shefeera Timbers in Groblerstraat onderskeidelik. Die ander twee brande is aangemeld langs die N1 suid en by Champions Academy buite Louis Trichardt langs die Madombidzha-pad.
Dit was nie net die veld rondom Shefeera Timbers wat gebrand het nie. Die vuur het vermoedelik van daar af na laer in Groblerstraat versprei tot in die begraafplaas en toe na Kortstraat, waar Partland Scrapyard amper afgebrand het.
Die Makhado Polisie het hierdie week gesê dat daar geen klagte by die stasie aangemeld is van enige brandstigting nie. Verder het die stasie geen kommentaar gehad op die bewerings dat van verlede week se brande deur die berugte “rolstoel-boemelaar” gestig is nie. Volgens die Makhado Brandweerstasie het hulle al by meer as een geleentheid by die polisie gekla oor dié man se vure wat hulle pal moet gaan blus.
Tradisioneel sal die brandverbod geld tot die laaste dag van Oktober, maar hierdie jaar sal dit in plek bly tot en met die volgende goeie reënval. Die rede waarom die brandverbod ingestel word, is om die veiligheid van mense, vee, wild en infrastruktuur teen wegholbrande te verseker, veral in ‘n tyd wat water nie altyd beskikbaar is wanneer dit nodig is nie. Daar moet veral teen brand gewaak word in areas waar baie plantasies en vrugteboorde is, aangesien die verlies van hierdie bome ‘n groot impak kan hê op die land se ekonomie.
Enigiemand wat die verbod verontagsaam, kan vir hulleself swaar boetes op die hals haal en kan selfs aanspreeklik gehou word vir die brandskade op eiendom wat weens die brand skade kry.
Enigiemand wat die brandverbod oortree, kan verkla word by die Makhado Brandweerstasie se bevelvoerder, mnr. Jack Ramalatso. Hy kan by die stasie geskakel word by tel. 015 516 0554.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
