ADVERTISEMENT:

 

Staptog wil bewusmaking kweek oor plaasmoorde

 

News  Date: 31 August 2017

 

‘n Unieke staptog om geld in te samel vir ma’s en hul kinders wie hul mans en pa’s in plaasaanvalle aan die dood moes afstaan, spring eersdaags op Musina weg.

Een van hulle is Mariandra Heunis – weduwee en ma van vier klein kindertjies. Haar lewe het tot ‘n noodstop gekom toe haar man Johann en pa van haar kinders koelbloedig voor hulle vermoor is tydens ‘n plaasaanval in Leeuwfontein, Pretoria, op 1 Oktober 2016. Die egpaar het drie dogtertjies, Mieke (nou 7), Mischa (nou 5) en Majandrè (amper 3) en seuntjie Andrè Johann wat 5 dae ná die begrafnis gebore is. Johann is ses keer geskiet voor Mariandra en Mieke (toe 6 jaar oud), ten spyte daarvan dat Johann mooi met die aanvallers gepraat het en alles aangebied het wat hulle het. Ná hulle Johann doodgeskiet het, is die aanvallers net met die egpaar se selfone weg.

Mariandra se verhaal is nie uniek nie. Daar is baie ander mammas en hul kinders wat skielik oornag sonder heenkome of inkomste gelaat is, nadat hulle mans in plaasaanvalle vermoor is. Haar verhaal het egter die verbeelding van talle mense aangegryp en aangespoor om oor te gaan tot aksie.

In ‘n poging om ‘n verskil te maak in hierdie mammas en kinders se lewens, het Hendre Papenfus, ‘n gemeenskapslid van Centurion, die nie-winsgewende organisasie Warriors 4 Christ (NPC 2017/021596/08 NPO 184-026) gestig. Hulle beplan om op 4 September vanaf Laerskool Messina in Musina te begin stap na Durbanville in die Kaap – ‘n totaal van 1 900 km. Die doel van hulle Warrior Walk is om bewusmaking te kweek oor hierdie geweld wat verwoesting agterlaat, en ook om geld in te samel vir Mariandra en mammas in soortgelyke omstandighede.

Ná hulle wegspring sal die groep aandoen in Louis Trichardt, Polokwane, Centurion, Klerksdorp, Kimberley en uiteindelik Durbanville op 25 November. Daar word beoog om R1 miljoen in te samel. “Ons lewens gaan aan. Hulle s’n is uitmekaar geruk,” sê die organiseerders.

Persone wat wil help, is welkom om ‘n donasie te maak. Inbetalings kan gemaak in die naam van Warriors 4 Christ NPC in FNB-tjekrekeningnommer 6267 0394 966. Die takkode is 251945.

Vir meer inligting, besoek die WARRIORS 4 CHRIST NPC SOUTH Africa se Facebook-blad.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines