ADVERTISEMENT:

 

Waterkrisis word bestuur, maar nog nie opgelos nie

 

News  Date: 30 June 2006

 

Water is in hierdie stadium ‘n kosbare kommoditeit in Makhado (Louis Trichardt). Spaarsamige gebruik van water is noodsaaklik, omdat nege munisipale boorgate buite werking is.

Tot tyd en wyl die munisipaliteit se plan om die boorgate te herstel en te beveilig in werking tree, is die watervoorsiening as’t ware op ‘n mespunt gebalanseer.

Met net vier boorgate in werkende toestand, is daar nie ‘n noodplan wat in werking kan tree om watertoevoer aan te vul as daar ‘n skielike probleem met die hoof watertoevoer ontstaan nie.

Na talle klagtes van inwoners wat sedert die begin van Junie vir etlike dae sonder water moes klaarkom, blyk dit of die munisipaliteit nou die “nagmerrie” die afgelope twee weke bestuur en onder beheer het, veral veral in die ou dorp.

Mev. Elsa Louw van Joubertstraat, wat sedert 2 Junie vir twee weke sonder water moes sukkel, sê dat hulle sedert verlede Maandag nog nie weer sonder water was nie.

“Vir hoe lank weet ons nie. Ons is net dankbaar dat ons weer water het. Daar was nie eers water vir die toilette nie. En om te dink ons betaal vir die dienste,” het Louw gesê.

Mnr. Gert Oosthuizen van dieselfde omgewing het bevestig dat hulle watertoevoer herstel is, maar dat hulle in spanning verkeer dat die water weer sal “opdroog”. Hy sê dat hy nie weet wat die verbetering veroorsaak het nie, want “dit help nie om met die munisipaliteit te praat nie”.

“Jy kry niemand wat sinvol kan antwoord nie,” sê Oosthuizen.

Mev. Marietjie Struwig, wat woonstelle in Cronjéstraat het, het gesê dat die waternood ‘n groot verleentheid was. Die watertoevoer is verlede week herstel. Verlede Dinsdag en Woensdag was die watertoevoer nog aan en af, maar hulle het gelukkig nog nie weer hierdie week klagtes gehad nie. Struwig sê dat die mense se opstand en die media moontlik gehelp het om reaksie te kry.

“Dankie Vader, sover hou die water,” sê sy. “Wat die munisipaliteit ookal gedoen het, hulle het dit reg gedoen.”

Die munisipaliteit wou by navraag nie bekendmaak wat hul tydelike maatreëls behels nie. Daar kon ook nie meer lig gewerp word oor wanneer die boorgate weer herstel gaan word nie. Daar is egter ‘n onderneming gegee dat meer inligting volgende week beskikbaar gemaak sal word.

Die munisipale woordvoerder, mnr. Peter Muleya, het Dinsdag gesê dat vandalisme die oorsaak is dat die dorp net vier werkende boorgate oor het.

“Dit het ons watervoorsiening gestrem, maar ons is besig om die hele watervoorsieningsproses op te gradeer, ” sê Muleya.

Koperdraaddiewe het die pompe en transformators by die betrokke boorgate feitlik onherstelbaar beskadig. Die kommer van inwoners dat die munisipaliteit nie die vermoë het om die boorgate te beveilig nie, het na vore gekom. Die sekuritetisprobleem sal egter aandag geniet.

“Op die oomblik is daar geen sekuriteit nie, want daar is niks oor om te beveilig nie. Die diewe het alles gesteel,” sê ‘n raadsamptenaar.

Muleya het intussen inwoners versoek om water spaarsamig te gebruik.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines