

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 June 2006
Die omstrede saak teen die agt “betogers” wat tydens ‘n vreedsame protesoptog op 1 April 2004 op die N1-deurpad deur Makhado (Louis Trichardt) deur die polisie gearresteer is, het Maandag (26ste) weer voor die plaaslike landdroshof gedien.
I. J. Barnard, A. E. Malan, W. J. Malan, C. J. Janse van Rensburg, D. J. Coetzee, N. C. König, G. P. Wepener en J. J. Wepener is almal aangekla op ‘n oortreding van Regulasie 319(1) van die Padverkeerregulasies in terme van Artikel 75 van die Nasionale Padverkeerswet no. 93 van 1996. Volgens dié regulasie het al agt ‘n versperring op die N1 veroorsaak. Hulle was deel van ‘n vreedsame optog waartydens inwoners hul misnoeë betuig het oor die gevaarlike verkeerssituasie wat in die dorp veroorsaak word deur wegholvragmotors, na die dood van twee jong kinders.
Die hofsitting het onder baie streng polisie bewaking plaasgevind waar van die polisie beamptes selfs met R5 gewere gewapen was. Die Staat se saak is gelei deur ‘n baie bekwame aanklaer wat vanaf Pretoria afkomstig is en het op Maandag twee getuies geroep.
Die getuies was polisiebeamptes Nel en Pieterse wat op 1 April vanaf die spesiale taakmag in Polokwane ontplooi is om die vrede tydens die optog op die N1 te bewaar het.
Die saak teen die agt is uitgestel na 2 en 3 Oktober vanjaar, wanneer Kommissaris Charles van Wyk as getuie geroep sal word.

ADVERTISEMENT:
