

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 June 2006
Die legendariese doyen van blommerangskikkers in die Soutpansberg, die veelsydige en talentvolle mev. Grya van Wyk, is vandeesweek in Makhado (Louis Trichardt) te ruste gelê. Sy is die afgelope naweek in die ouderdom van 78 jaar oorlede.
Die merkwaardige en alom beminde “Tannie Grya” het Saterdag aan hartversaking beswyk, nadat haar gesondheid geleidelik agteruit gegaan het sedert ‘n ligte beroerte aanval in 2000.
Sy het oorspronklik in 1947 van die Carolina Distrik na Louis Trichardt gekom en is in 1951 hier met KP van Wyk getroud. Die egpaar het drie kinders gehad, waarvan een seun, Karel, en ‘n dogter, Gerda Uys, nog lewe. Daar is vier kleinkinders, waaroor sy baie erg was.
Tannie Grya was ‘n lid van die World Association of Flower Arrangers, ‘n gekwalifiseerde beoordelaar en stigterslid van die Louis Trichardt Blommeklub en het ‘n reuse aandeel gehad in die vestiging van die indrukwekkende blommeskou as ‘n beduidende deel van die jaarlikse plaaslike Soutpansberg Skou. Dié hoë gehalte blomme-uitstalling sorg gereeld vir ‘n asemrowende skouspel wat ook waarderende besoekers van elders gereeld betower.
Sy het deur die jare talle plaaslike bruide se bruidsruikers met groot sorg en vaardigheid geskep en was gereeld verantwoordelik vir stylvolle blomrangskikkings in die kerk. Sy was ook ‘n voorslag kok en sedert 1951 het die veelsydige Tant Grya gereeld gesorg vir die kerrie en rys by haar gemeente se jaarlikse basaar. Sy was ewe bekend vir haar talentvolle skepping van hoede, klere en mandjies.
Sy het haar talle talente graag met ander gedeel en gedurende haar lewe baie vaardighede vir baie mense help aanleer.
Die begrafnis was Maandag uit die Louis Trichardt NG Moedergemeente. Die diens is gelei deur Dr. A. M. Dekker.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
