

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 June 2006
Kragonderbrekings die afgelope naweek het sommige inwoners onkant betrap. Kennisgewing van die beoogde kragonderbrekings is nie aan alle inwoners deurgegee nie en baie het gewonder wat aan die gang is.
Navraag by die elektrisiteitsafdeling van die munisipaliteit het aan die lig gebring dat noodsaaklike werk rakende die aansluiting van krag vir die nuwe winkelkompleks, geleë oorkant die N1 en naby die skougronde, gedoen moes word. Dit het geblyk dat daar reeds lank vooruit beplan is dat dit op 25 Junie gedoen sou word. Daar was ‘n keuse om òf die hele dorp se krag af te skakel, òf om die krag na substasies te neem en vir gedeeltes van die dorp krag te voorsien. Die laasgenoemde uitweg is gekies. Nadat die elektrisiteit afgesluit is, is die skakelwerk deur ses persone hanteer. Dit het van sewe- tot agtuur Sondagoggend geduur en is afgehandel tussen 16:00 en 19:00. In totaal het sowat 12 persone diens gedoen om die werk af te handel.
Intussen is ook van die geleentheid gebruikgemaak om ‘n kapasitorbank wat opgeblaas het, te verwyder. Dit het veroorsaak dat Makhadopark vir vier ure geheel en al sonder elektrisiteit was. Die inwoners van daardie gedeelte is met kennisgewings per hand ingelig van die komende kragonderbreking. Dit is nog nie duidelik wat die ontploffing van die kapasitorbank veroorsaak het nie, maar daar was ‘n gat in, wat moontlik dui dat daar op die tenk geskiet is.
Die inwoners van Makhadopark was die enigstes wat kennisgewings ontvang het. Volgens inligting blyk dit dat die prosedure is dat daar kennis gegee word, ook in die pers en deur middel van die radio. Dit het nie gebeur nie.
By navraag oor waarom die belastingbetalers nie in kennis gestel is van die komende kragonderbreking nie, het die Makhado Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Peter Muleya, aanvanklik geantwoord dat daar ‘n onverwagse fout met die elektrisiteit was. Later het hy gesê dat die onderbreking wel beplan was. Muleya het ook onder meer vir Eskom die skuld gegee vir die onderbreking. Sy inligting was ietwat verwarrend.
Intussen is daar drie groot programme in die pyplyn om die dorp se interne elektrisiteitstelsel op te knap. Die programme begin op 1 Julie. Die hele hooftoevoerlyn word vervang en die projek behoort teen Julie 2009 afgehandel te wees. Die huidige fase is die beplannings- en ontwerpfase. Tweedens word ‘n addisionele toevoerlyn ondergronds deur die nuwe winkelkompleks aangelê en sal op die toevoerlyn langs die N1 inkom. Die gedagte is om soveel as moontlik addisionele toevoerpunte te skep sodat daar ook noodtoevoer kan wees. Derdens word substasies opgegradeer op verskeie plekke in die dorp, asook drie groot transformators om die middedorp te versterk.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
