ADVERTISEMENT:

 

Dorpswag help om dorp veiliger te maak

 

News  Date: 07 July 2006

 

Daar is die laaste paar weke baie bespiegelinge oor die mate van sukses wat die Soutpansberg Dorpswag al behaal het sedert daar begin is met die ry van patrollies in April.

Volgens ds. Phillip Venter van die Soutpansberg Dorpswag het hy tydens gesprek met senior superintendent Ronnie van Niekerk van die Misdaadvoorkomingseenheid in Thohoyandou verneem dat die land in 43 streke opgedeel is wat betref volume misdaad. Streek een het die minste misdaad met streek 43 wat die slegte daaraan toe is.

“Louis Trichardt was in November verlede jaar 43ste op die lys. Dié prentjie het dramaties verander sedert die dorpswag met hul aktiwiteite begin het. In Mei vanjaar was die dorp derde op die lys,” sê dr. Venter.

Intussen word daar uit alle oorde met groot lof gepraat van die goeie werk wat die dorpswag verrig. Selfs die Makhado Munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, het vandeesweek gesê dat skade en diefstal van en aan die Raad se infrastruktuur dramaties afgeneem het sedert die ontstaan van die dorpswag.

Waardering vir die mans en vroue wat hul tyd soms te midde van bittere koue opoffer om patrollies te ry is legio. Verlede week het ‘n bejaarde inwoner van Kleynhansstraat die koerant geskakel met ‘n versoek dat daar sommer op ‘n weeklikse basis ‘n standaard bedanking in die koerant moet verskyn waarin dankie gesê word vir diegene wat help om die dorp se strate veiliger te maak.

“Sê vir die mense baie, baie dankie dat ou mense soos ek rustiger kan slaap in die aand,” het die inwoner opgemerk.

Buiten vir die toegewyde samewerking van die vrywilligers wat betrokke is by die ry van patrollies, lê die sukses van die dorpswag ook grootliks opgesluit in die goeie kommunikasie tussen lede in tye van nood, danksy die gebruik van tweerigting-radio’s. ‘n Beheersentrum wat 24 uur per dag beman word is goedgunstiglik beskikbaar gestel deur mnr. Doep du Plessis van Pemico. Die beheersentrum, met die roepsein Lima Bravo, is geleë by Dura Tow in Pretoriusstraat.

“Indien enige iemand hulp nodig het kan hulle bloot Lima Bravo radio of die beheerkamer skakel. Ons sal dan toesien dat hetsy die polisie, verkeersafdeling, ambulans, brandweer, dorpswag- of plaaswaglede dadelik ontbied word,” sê mnr. Du Plessis.

Die beheersentrum se kontakbesonderhede is beslis ‘n nommer wat inwoners byderhand of op hul selfone geprogrammeer moet hê. Soos reeds genoem is die roepsein vir tweerigtingradio’s Lima Bravo. Alternatiewelik kan die nommer 083 251 8501, (015) 516 0567 of (015) 516 5186 geskakel word.

Ongelukkig is daar enkeles wat misbruik maak van die radiostelsel. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan was toe ‘n man in sy besope wysheid en omtrent 70 man sterk met die hulp van Bacchus, Saterdagaand/Sondagoggend dorpswaglede die harnas ingejaag het met vieslike skeltaal en onsamehangende argumente oor die dorpswagkanaal. Selfs ‘n beroep deur ds. Venter dat die man asseblief moet ophou om die radiokanaal te misbruik, is begroet met ‘n braaksel van dronk moeilikheidsoekery.

“Wat die ou nie besef nie, is dat terwyl hy die radionkanaal okkupeer met sy twakpratery, iemand anders wat regtig in die moeilikheid kan wees nie die kanaal kan gebruik nie. Die ou en sy maatjies dink hulle is vreeslik snaaks, maar eintlik speel hulle met mense se lewens,” het een dorpswaglid met reg opgemerk. Die dorpswaglede het na die voorval mense versoek om nie die kanaal te misbruik nie en gevra dat mense wat dit wel doen, geïdentifiseer moet word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines