ADVERTISEMENT:

 

Verdagtes ontvlug, maar gemeenskap dankbaar vir vinnige optrede

 

News  Date: 07 July 2006

 

‘n Grootskaalse soektog is verlede geloods na drie verdagtes wat op 27 Junie helder oordag ‘n gewapende roof gepleeg het op die plaas Beja/Nooitgedacht.

Die vermoede bestaan dat die rowers ook verantwoordelik was vir ‘n rooftog die voorafgaande naweek, waartydens ‘n voertuig gesteel is. Volgens Jacques Bouwer van die Albasini Plaaswag is die voertuig later verlate langs ‘n pad by die Albasinidam gevind waar dit vermoedelik sonder brandstof gaan staan het.

Die rowers is klaarblyklik hierna na die plaas Beja/Nooitgedacht waar hulle eers die tuinwerker oorrompel en vasgebind het. Hierna het hulle ‘n vrou gekonfronteer en daarin geslaag om op die vlug te slaan met verskeie losgoedere en ‘n voertuig.

Die eienaar van die plaas kon nie die plaaswag aktiveer nie en het vanaf die dorp uitgejaag plaas toe. Onderweg het hy die rowers opgemerk, waarna die rowers gestop, uitgespring en die bosse in gevlug het.

Lede van die SAPD van Makhado (Louis Trichardt) en Waterval het na die voorval ‘n soektog geloods na die drie verdagtes. Hulle is bygestaan deur die plaaswag, asook ‘n polisiehelikopter vanaf Polokwane.

Drie mans is na aanleiding van die voorval aangekeer nadat hulle vir die polisie weggehardloop het. Dit het egter later geblyk dat die drie mans slegs verbode immigrante was en nie betrokke was by die aanval nie.

Bouwer het vandeesweek gesê dat alhoewel die verdagtes nie aangekeer kon word nie, dit verblydend was om te sien hoe vinnig die polisie gereageer het en hoe vasbeslote hulle was om die skuldiges aan die pen te laat ry.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines