ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Gerrie van Zyl (64). Foto verskaf.

"Ons was nie gereed om jou te groet nie"

 

Die welbekende mnr. Gerrie van Zyl van Louis Trichardt is verlede Donderdag, 14 September, skielik in die ouderdom van 64 jaar oorlede.

Van Zyl was sy hele lewe werksaam by die plaaslike NTK by die trekker-afdeling en derhalwe veral bekend onder boere. Hy was egter die laaste twee jaar basies afgetree weens gesondheidsprobleme. “Weens sy emfiseem was hy feitlik permanent op suurstof gewees,” het seun Gerrie junior gesê.

Gerrie het vertel dat hulle sy pa verlede Woensdag dokter toe geneem het. Hy is kort daarna vir longontsteking opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Verlede Donderdagoggend het hy nog sy eggenote Liza geskakel en gevra om vir hom ‘n paar goedjies hospitaal toe te bring. “Nog voor my ma by die hospitaal was, het die dokter egter geskakel en gesê my pa is pas aan ‘n hartaanval oorlede,” het Gerrie gesê.

Van Zyl was sy hele lewe ‘n inwoner van die Soutpansberg. Dit is ook hier wat hy vir Liza ontmoet en getrou het, en al hul kinders is hier gebore. “My pa was ‘n groot jagter en hengelaar gewees. Dit was sy passie gewees. Hy was ‘n stil mens gewees, het nooit gedrink nie en het nooit moeilikheid gemaak nie,” het Gerrie gesê.

Gerrie onthou sy pa as ‘n streng en regverdige mens wat baie hard gewerk het. “Hy was maar ‘n moeilike mens, maar 'n reguit mens gewees. Dit was maar die Van Zyl manier. Alles moes reg gedoen gewees het, alhoewel hy nooit iemand te na gekom het nie,” het Gerrie gesê.

‘n Laaste eerbetoon vir wyle Gerrie word Vrydag, 22 September, om 11:00 vanuit die AGS-gemeente in Louis Trichardt gehou. Hy word oorleef deur sy eggenote Liza, broer Jannie, suster Cornelia Horn, kinders Marthie, Johan, Gerrie en Gerhard, skoondogters Nicolene, Liza en Lianré, skoonseun Hennie en kleinkinders Jacolien, Marco, Selmari en Ivanka.

“Ons was nie gereed om jou te groet nie, maar gun jou die rus waar jy nou aan ons Vader se voete sit - jou liggaam heel en sonder seer,” skryf die familie in ‘n huldeblyk aan wyle Gerrie. “My pa se laaste wens was om veras te word en dat sy as onder ‘n spesifieke Matoppie-boom by Waterpoort gestrooi moet word waaruit hy altyd die koedoes voorgelê en gejag het,” het Gerrie bygevoeg.

Die familie het ‘n spesiale woord van dank gerig aan drs. Gaigher en Badenhorst en die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal vir die mooi manier waarop hulle wyle Gerrie behandel het. Hulle het ook die gemeenskap bedank vir al die boodskappe en woorde van vertroosting. “Ons het net weer besef hoe bevoorreg mens is om in so ‘n dorp en gemeenskap te bly,” het Gerrie gesê.

News - Date: 22 September 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: