ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Dirk du Toit (74) en sy liefling agterkleindogter, Emma-Mae. Foto verskaf.

Daar was min wat enjins geken het soos hy

 

“Hy was werklik bekend, nie net in ons area nie, vir sy uitstekende kennis van enige enjin.”

So onthou Rampie Gilfillan sy skoonpa, mnr. Dirk du Toit van Louis Trichardt, wat verlede Vrydag, 15 September, in die ouderdom van 74 jaar oorlede is.

Oom Dirk was ‘n boorling van die Soutpansberg. Gebore op 4 September 1943, het hy sy laerskoolloopbaan by Laerskool Louis Trichardt voltooi in die destydse skoolgebou waar Nictus vandag geleë is. Hy was goed tegnies aangelê en matrikuleer aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.

Die Du Toit-familie is welbekend in die Soutpansberg. Oom Dirk se pa, Boet, het destyds Du Toits Bande in Munnikstraat oopgemaak. Oom Dirk self was egter nie ‘n bande mens nie, en het besluit om op 27-jarige ouderdom sy eie onderneming, Du Toit Motor Ingenieurs, in 1970 oop te maak. Dit nadat hy sy vakleerlingskap by Motors & General in die destydse Pietersburg voltooi het.

Du Toit Motor Ingenieurs is aanvanklik vanaf die Du Toits Bande perseel in Munnikstraat bedryf, maar het later jare na oom Dirk se perseel in Rissikstraat verskuif, waar dit vandag nog is. “Daar is nie iemand wat enjins so goed soos hy geken het nie. Hy het veral ‘n liefde gehad vir die opbou en oorbou van Listers,” het Rampie bygevoeg.

Oom Dirk was ‘n baie gerespekteerde sakeman gewees. “Hy het ‘n baie suksesvolle besigheid bestuur met sy ingenieurswerke. Ek moet vir jou sê, wat ingenieurswerke betref, is daar min besighede noord van Pretoria wat sy sukses bereik het nie. Ek dink dit was weens die feit dat hy die werk self gedoen het. Hy was nooit ‘n baas gewees wat sit en kyk hoe ander werk nie. Hy het self gewerk,” het Rampie gesê. Oom Dirk was tot sy dood aktief betrokke by Du Toit Motor Ingenieurs, alhoewel hy die laaste twee jaar maar bietjie siekerig was.

“In sy jonger jare was hy ‘n verskriklike stout mannetjie. Hy was ‘n vreeslike bok vir sports en was baie lief vir sy karre, veral Fords. In die sewentigs het hy twee of drie verskillende Mustangs gehad, twee verskillende Ford Bronco’s en Ranchero’s. Hy het sy jare as deel van die plaaslike polisiereserviste verskriklik geniet. Dit was vir hom baie lekker,” onthou dogter Charmaine haar pa met ‘n glimlag.

Oom Dirk was ‘n natuurmens wat lief was vir die buitelug. “Hy het ‘n werklike liefde vir sy plaas Brakspruit gehad op die lugmagbasispad. Hier het hy maar altyd bietjie met beeste geboer, alhoewel hy nooit ‘n megaboer was nie. Hy het ook ‘n verskriklike liefde vir die Albasinidam, waar hy ook ‘n stukkie grond gehad het, en vir visvang gehad. Hy was baie lief vir boot ry,” het Rampie en Charmaine gesê.

As familiemens het oom Dirk se kinders vir hom groot ontsag gehad. “Hy was verskriklik lief vir sy familie, veral vir sy kleinkinders en agterkleinkind Emma-Mae,” het Charmaine gesê. Sy voeg by dat hy, soos die jare aangestap het, baie rustiger geraak het. “Veral in sy later jare was hy nie ‘n kuiermens nie, hy was ‘n familiemens. Hy was by sy huis, by sy werk, by die dam en by sy plaas. Dit was vir hom baie lekker as iemand by hom kom kuier het, maar hy sou nie maklik in sy kar klim en by iemand anders gaan kuier nie,” het Charmaine gesê.

Soos genoem was oom Dirk se gesondheid die laaste twee jaar nie goed nie. “Hy het gesukkel met sy gesondheid, veral as gevolg van sy suiker. Dit het uiteindelik sy tol geëis,” het Charmaine gesê.

Wyle oom Dirk word oorleef deur sy vrou Annie, broer Buddy, suster Joan, halfbroer Theuns, dogters Vanessa (en skoonseun Rampie) en Charmaine, stiefseuns Christo en Derick, drie kleinkinders en een agterkleinkind. Hy is Woensdag, 20 September, vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe.

“Ons as familie wil net vir almal dankie sê vir die woorde van vertroosting en ondersteuning wat ons ontvang het in hierdie moeilike tyd,” het die familie gesê.

News - Date: 23 September 2017

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: