ADVERTISEMENT:

 

Van die hope rommel wat in die nuut opgeruimde veld in die Groen Gordel area langs Presidentstraat weggegooi is. Foto verskaf.

Morsjors word in die bek geruk

 

Te midde van ‘n uitgebreide poging deur verskillende rolspelers om die dorp se “Groen Gordel” op te ruim en skoon te maak, het een inwoner besluit dit is ‘n ideale plek om tonne bourommel daar te gaan stort.

Inwoners se bloed het behoorlik gekook toe ‘n persoon sedert verlede Woensdag meer as 15 vragte bourommel in die boompark  (waar dit grens aan Presidentstraat) gaan aflaai het met ‘n vragmotor. Die bestuurder van die vragmotor en sy helpers het hulle vermakerig doof gehou vir die omliggende huiseienaars se besware.  Elke keer het hy net weggery en dan weer teruggekom met nog ‘n vrag. Die rommel is glo afkomstig van ‘n huis wat in Burgerstraat gesloop is. Vermoedelik is die rommel nie vullisterrein toe aangery nie, want dan moet daarvoor betaal word.

Buiten dat dit onwettig is vir enige iemand om vullis weg te gooi in munisipale parke, is dié gedeelte van die Groen Gordel pas klaar mooi opgeruim deur middel van ‘n vrywillige gemeenskapsprojek. Dit het nie net ‘n ongelooflike hoeveelheid mannekrag gevat om die stuk van die park skoon te kry nie, maar talle plaaslike besighede het ook masjinerie beskikbaar gestel het om te help met die ontbossing en wegry van al die vullis.

Die Soutpansberg Sakekamer het ‘n deurlopende opruimingsveldtog, in samewerking met verskeie rolspelers asook die Makhado Munisipaliteit, om Louis Trichardt se groengordelgebied langs die N1 en munisipale parke weer in ‘n toestand te kry sodat dit deur inwoners geniet kan word.

“Te erg is te erg! Besef die ou nie dat hy besig is om aan te jaag nie!” het een ontstoke inwoner aan die koerant gesê.

Die betrokke deel van die park is skoongemaak met die oog daarop dat dit later deel sal word van ‘n pretdraf roete wat nog beplan word deur die Soutpansberg Atletiekklub. Hierdie 5km-roete sal deel vorm van die nasionale “park run” inisiatief wat later bekendgestel sal word.

Ontstoke inwoners in die area het die Soutpansberg Sakekamer, die plaaslike raadslid van die Demokratiese Alliansie en die munisipaliteit geskakel om te kla. Video- én fotobewyse is gekry van die vragmotor wat besig is om die rommel af te laai, waar hy wegjaag van die toneel af en die werkers wat hulle doof en stom hou.

Danksy dié kollektiewe klagtes en fotobewyse, waarop die registrasienommer van die vragmotor gesien kon word, het die munisipaliteit dadelik werk gemaak daarvan om die skuldige persoon op te spoor.

Daar is vasgestel dat die vragmotor aan ene M. E. Tlou van Tshikota behoort. Die munisipaliteit het Tlou beveel om onmiddellik al die vragte bourommel wat daar gestort is, weer te gaan opruim. Die munisipaliteit het die vragmotorbestuurder ook na die nuwe stortingsterrein begelei om vir hom te wys presies waar hy wel bourommel kan stort.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het by navraag bevestig dat, in terme van die munisipaliteit se beleid  en ordinansies oor huishoudelike en ander afval, die eienaar van die vragmotor die een is wat aanspreeklik gehou sal word vir die gemors. “Indien hy nie gehoor gee aan die bevel nie, sal die munisipaliteit sy gemors vir hom gaan skoonmaak en die kostes van hom verhaal,” het Bobodi gesê.

Bobodi het inwoners daarop gewys dat munisipale ordonnansies daar is vir ‘n rede en dat hulle, soos in die geval van die vragmotoreienaar, sal optree indien hierdie ordonnansie oortree word. Bobodi het ‘n beroep gedoen op inwoners om soortgelyke gevalle te rapporteer aan mnr. N.P. Nndwakhulu deur hom te skakel by 078 802 9414 of by mnr. H.N. Tshivhula by 082 402 8439. Hulle is betrokke by afvalbestuurdienste en sal daadwerklik aandag gee aan die klagte. Dit help natuurlik ook, het Bobodi gesê, as daar fotobewyse is van voorvalle.  

Die Soutpansberg Sakekamer het ná die voorval hul dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp het om die voorval by die munisipaliteit aan te meld. “Ons is ook dankbaar teenoor die munisipaliteit dat hulle vinnig gereageer het en van voorneme is om die eienaar aanspreeklik te hou,” het mnr. Jaco Voigt, voorsitter van die Soutpansberg Sakekamer, gesê. “Die voorval het ook vir ons gewys watter verskil inwoners kan maak as hulle almal saamstaan,” het hy bygevoeg.

 

News - Date: 25 September 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Dit is hoe die deel van die boompark, langs Presidentstraat, daarna uitgesien het pas nadat dit met behulp van 'n gemeenskapsprojek skoongemaak is. Foto verskaf.

Dit is hoe die deel van die boompark, langs Presidentstraat, daarna uitgesien het pas nadat dit met behulp van 'n gemeenskapsprojek skoongemaak is. Foto verskaf.

'n Leser het dié foto geneem van die vragmotor wat die afgelope week tonne bourommel ontwettig in die boompark gestort het. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: