

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 July 2006
“Shut up, sit down and keep quiet!” Oomblikke later klap ‘n skoot wat rakelings die 85-jarige oom Willie van Wyngaardt mis. Dit was duidelik hulle het bedoel om dood te skiet …
Die skokgebeure wat verlede Woensdagmiddag kort voor vyfuur tydens ‘n gewapende roof by Isofo in Makhado (Louis Trichardt) ontvou het, laat ‘n mens koue rillings kry.
“Ek het opgestaan om drie mans te help wat ingestap gekom het. Ek het teruggekyk na my skoonpa (oom Willie) toe terwyl ek met hom praat en toe ek opkyk, is die 9mm-pistool teen my kop,” vertel slagoffer Marinda van Wyngaardt. Ook saam met hulle in die kantoor was oom Bobbie Eyssel.
“Ek het besef die man gaan my skiet. Hy het die hele tyd geskreeu ‘Open the till, open the till! I’ll shoot you!’ Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie, maar ek het onder die toonbank ingeduik en die panniekknoppie gedruk,” sê Marinda.
Intussen het oom Willie orent gekom en na die drie mans met die vuurwapen gestap en hulle gevra wat hulle wil hê. Oom Bobbie het in daardie stadium besef hulle gaan oom Willie skiet en nadergestap, terwyl hy herhaaldelik die aanvallers versoek het om kalm te bly.
“Oom Bobbie het vir hulle gesê hy sal die kasregister oopmaak, hulle moet net rustig wees. Hy het toe vir oom Willie stadig uit die pad van die geweerloop gedruk,” sê Marinda.
Meteens het daar ‘n skoot geklap. Dit het oom Willie rakelings gemis, tussen sy arm en bors deur en ‘n uitgangsdeur agter hulle getref.
“Be calm! Be calm! Don’t shoot!” het oom Bobbie gepleit in ‘n poging om die situasie onder beheer te kry.
Daarna het die verdagtes self probeer om die kasregister oop te maak, maar sonder sukses. Oom Bobbie, met die pistool teen sy kop, het selfs die kasregister vir hulle ontkoppel, maar steeds kon hulle nie die kasregister oop kry nie.
“Die man met die wapen was baie gespanne. Dit het kompleet gelyk of hy bokkoors het. Ek dink nie hulle het regtig geweet wat om te doen nie,” sê Marinda.
Intussen het kollega Meisie van Wyngaardt van die dorp teruggekeer.
“Good afternoon,” het een van die verdagtes haar so ewe gegroet toe sy by haar winkel instap.
“Meisie, ons word beroof!” het Marinda geskreeu, maar Meisie het nie dadelik besef wat aangaan nie. Eers toe een van die mans haar handsak probeer gryp en sy bo-op die handsak op die grond te lande gekom het, het sy besef wat aangaan.
“Gee net die handsak vir hulle, anders gaan hulle jou skiet, het ek vir Meisie gesê,” vertel Marinda. Die rowers het kort daarna die bosse oorkant die spoorlyn in Unikastraat ingevlug met Meisie se handsak, waarin ‘n groot hoeveelheid kontant en haar vuurwapen was.
Maar die rowers se sukses was van korte duur. Soos blits was die sekuriteitsmaatskappy, polisie en nuutgestigte dorpswag op die toneel. Daar is dadelik begin om die digte bosse te fynkam en skaars was die son onder, of al drie die beweerde verdagtes is vasgetrek. Dit was duidelik ‘n operasie wat nie sonder die hulp van die dorpswag kon slaag nie. Twee van die verdagtes is selfs deur ‘n lid van die dorpswag, Willem Olivier, vasgetrek.
Meeste van die gesteelde kontant is teruggevind, asook die wapen wat deur die aanvallers gebruik is en dié van Meisie. Die een vuurwapen is digby die plek waar die een verdagte platgetrek is, die volgende dag versteek gevind. Die vinnige optrede deur lede van die dorpswag, die sekuriteitsfirma en die polisie het hoë lof ontvang vanuit alle oorde.
“Ek kan net met groot bewondering praat van julle almal,” sê Marinda.
Die drie verdagtes, Emmanuel Rmujiki (21) van Tshikota, Solly Maluleke (30) van Turfloop en Phillip Legoda van Seshego (21), het Vrydag (7de) in die hof op Makhado (Louis Trichardt) verskyn op ‘n klag van onder meer gewapende roof. Die saak is uitgestel tot 14 Julie.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
