

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 July 2006
“Water is lewe” is nie net ‘n amperse cliché nie, maar bewys die hoë prioriteit wat die herstel van die dorp se water infrastruktuur moet geniet.
Goeie nuus aangaande die noodsaaklike beoogde herstel van die dorp se boorgate is hierdie week vanaf die munisipaliteit deurgegee.
Mnr. Lampie Schoeman, Munisipale Bestuurder van die Makhado area, het gesê dat die eerste aflewering van die toerusting om die boorgate te herstel, hierdie week arriveer.
“Vier dae later sal die water kan loop by die eerste boorgat by Ledig, en nog vier dae later dié by tenk B en C. So sal daar ongeveer elke vier dae ‘n boorgat herstel word totdat die laaste toerusting om en by 1 Augustus ontvang word,” sê mnr. Schoeman. Daar is een boorgat by Ledig en die meerderheid van die boorgate is tussen die begraafplaas en Sinthumule.
Nege boorgate is buite werking gestel, hoofsaaklik as gevolg van aanhoudende vandalisme van koperdraaddiewe. Vier ander boorgate is in werking. Die boorgate verskaf ‘n derde van die dorp se watervoorsiening en verskaf ook noodvoorsiening indien daar iets beskadig word by die Albasinidam se waterpypleiding.
“Op die oomblik het ons egter steeds ‘n waterkrisis,” waarsku mnr. Schoeman. Die waterkrisis raak veral Makhadopark, Tshikota, die ou dorp en sekere ander dele. Alle inwoners word gemaan om nog nie hulle tuinslange te voorskyn te bring nie. Veral die inwoners van uitbreiding 8 en 9 word gewaarsku om nie aan te hou tuine natspuit nie, anders sal meer drastiese waterbesparingsmaatreëls in werking gestel moet word.
Waarom is daar dan ‘n waterkrisis as die Albasinidam op ‘n redelike vlak van 63% staan, word algemeen gevra. Die krisis is nie as gevolg van die damvlak nie, maar as gevolg van die skade aan die boorgate.
Mnr. Schoeman sê dat alles teen 8 Augustus redelik terug na normaal behoort te wees, tensy daar iets snaaks gebeur of ‘n ander elektriese probleem opduik.
Die diens wat die munisipaliteit ten opsigte van die herstel van die boorgate lewer, behels twee aspekte. Die infrastruktuur word herstel deur die PD Otto Elektries Trust en die sekuriteit word deur Vennic aangepas.
“Die begroting daarvoor is R3.5miljoen en dit behoort nie dié bedrag te oorskry nie,” sê mnr. Schoeman.
Wat die sekuriteit betref, is die plan dat die nuwe stelsels met die beste en modernste tegnologie beskerm sal word. Die sekuriteitstelsel en spesiale veiligheidsmaatreëls sal ook gereeld aangepas word sodat daar altyd die verrassingselement sal wees wat vandale en diewe onkant sal betrap.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
